Kundiges deel wenke met aspirantskrywers en digters

Van links: Whaden Johannes. Foto: Julian van Heerden; Robin-Dean Fourie Foto: Hannes Visser; Quintin Stuurman. Foto: Julian van Heerden; Gracia Louw. Foto: Hannes Visser.

Skrywers en digters van die Karoo het verlede Saterdag die geleentheid gehad om ’n werksessie in Beaufort-Wes by te woon en by drie bekende woordkunstenaars kers op te steek.

Quinton Stuurman, ’n boorling van Beaufort-Wes, het in 2017 met sy Poetry Show in die gemeenskap begin met vier deelnemers. Sedertdien is die vertoning met gedigte en musiek ’n jaarlikse instelling, The Word Became Flesh, wat op die eerste Saterdag van September aangebied word.

Die bekende woordkunstenaar, Gracia Louw, wat al in verskeie lande opgetree het, het in 2021 betrokke geraak, op die dorp verlief geraak, getrou en daar gevestig. Saam met Quintin het hulle besluit om ontwikkelingsgeleenthede vir digters in die dorp te skep en aansoek gedoen vir befondsing by die Wes-Kaapse departement van kuns en kultuur.

Die gevolg was die eerste ontwikkelingsessie wat verlede Saterdag aangebied is. Dit is gevolg deur die aand se vertoning van The Word Became Flesh, waar digters en sangers van so ver as Mitchell’s Plain opgetree het.

Die werksessie is by die Thusongsentrum aangebied deur Gracia Louw, Quintin Stuurman, die musikant en mentor, Whaden Johannes en die bekende rymkletser en digter, Robin-Dean Fourie, beter bekend as Die Hooflig.

Volgens Louw wil hulle nog soortgelyke werksessies aanbied en dit ook na Oudtshoorn en ander dorpe in die Karoo uitbrei. (HANNES VISSER)