AK47 se eerste toneelstukke kry lewe op die verhoog

Bo: Leerders besig met repetisie. Foto verskaf Onder: Ricardo Arendse, die inisieerder van AK47. Foto: Hannes Visser

Leerders van vier hoërskole in Oudtshoorn is op 27 en 28 September op die verhoog in die ouditorium by die Infanterieskool.

Dit volg na maan- de se harde werk, afrigting en deursettingsvermoë van die leerders as deel van AK47 (Aanpassings-klas 47) se program om die jeug en gemeenskappe deelname en toegang tot teaterproduksies te gee. Die Hoorn het aan die begin van die jaar reeds berig oor die dramaturg, Ricardo Arendse, se visie met AK47 wat hy in 2024 as nie-winsgewende organisasie op die been gebring het.

Op daardie stadium was al die hoërskole in Oudtshoorn genooi om deel te neem. Die leerders en personeel van Langenhoven Gimnasium, Fezekile Secondary School, Dysselsdorp Sekondêr en Bridgton Sekondêr het deurgedruk om elk ’n verhoogstuk op te voer.

Die optredes is die eindresultaat van maande se mentorskap deur kundiges in die teaterbedryf en kreatiewe samewerking met leerders en onderwysers. Ricardo Arendse, Lee-Ann van Rooi en Bianca Flanders-Balie het sedert 2024 met skole saamgespan om leerders en onderwysers in die teaterbedryf op te lei. Die vier afdelings waaraan aandag gegee word, is teks, ontwerp, regie en aanbieding.

“Ons leerders het met deursettingsvermoë ge-werk en hierdie opvoerings is ’n viering van hulle talent, dissipline en verbeelding. Dit is ook ’n geleentheid vir die gemeenskap om bymekaar te kom en die krag van teater te ervaar wat deur die jeug van Oudtshoorn vir die jeug aangebied word,” het Arendse gesê.

Kaartjies vir die opvoerings beloop slegs R50 en kan direk by die vier skole gekoop word. Vir elke kaartjie wat verkoop word, word R10 aan die skool geskenk. Op hierdie wyse ontwikkel die program nie net talent onder die jeug nie, maar dra ook by tot hulle opvoeding. Elke skool het 500 kaartjies en daar word ’n beroep op besighede, organisasies, ouers en leerders gedoen om kaartjies te koop en die projek te ondersteun.

Vir verdere inligting kontak Ricardo Arendse by 078 547 5778 of Ricardo.arendse@live.co.za. (HANNES VISSER)