Die Labyrinth Circle-projek van die Rotariërs in samewerking met Dementia SA bied in Oktober ’n gulde ondersteunigsgeleentheid aan mense wat geliefdes met dementia tuis versorg. Daar word na hierdie versorgers as mantelsorgers verwys wat sonder betaling familielede versorg wat dementia-lyers is.
Labyrinth Circles landwyd is ondersteuningsgroepe vir mantelsorgers en daar word beoog om een in Oudtshoorn tot stand te bring.
Die oriëntering geskied oor drie dae en daar is plek vir slegs 15 persone wat al drie sessies moet bywoon. Die sessies vind plaas by die Oudtshoorn Rotariër aftreeoord in Kerkstraat op Maandag 20 Oktober, Woensdag 22 Oktober en Vrydag 24 Oktober vanaf 09:30 tot 12:30 waar-na middagete verskaf word.
Bywoning van al drie sessies is verpligtend en die totale koste beloop slegs R150 per persoon. Vooraf re-gistrasie is noodsaaklik aangesien daar slegs 15 plekke beskikbaar is. Indien meer aansoeke ontvang word, sal mense op ’n waglys geplaas word vir moontlike komende sessies.
Dalia Wilck is die Rotariër-lid wat die registrasies hanteer. Stuur ’n WhatsApp-boodskap of skakel haar by 084 620 0977 vir meer inligting en om registrasievorms te bekom. (HANNES VISSER)
Gulde geleentheid vir versorgers van geliefdes met dementia
Die Rotariër Aftreeoord in Kerkstraat. Foto: Hannes Visser