Die Outeniqua Uithouritklub bied vanjaar vir die tweede keer ’n Internasionale FEI (Federations Equestrian International) uithourit by die Kansa Krale net buite Oudtshoorn aan.
Vanjaar word meer as 100 pragperde verwag wat op Vrydag 19 en Saterdag 20 September teen mekaar gaan kompeteer oor afstande wat wissel van 40 km tot 160 km.
Vrydagoggend spring die eerste perde reeds vanaf 04:00 weg om die uitdagende 160 km-roete aan te durf. Die ander afstande waaroor die roetes strek, is 120 km, 100 km, 80 km en 40 km. Hierdie roetes kom Saterdag aan die beurt.
Ruiters moet drie FEI sterre verwerf om volgende jaar aan die Wêreldkampioenskappe in Al Ula in Saoedi-Arabië te kan deelneem. Perd en ruiter moet eers ’n 1-ster FEI-rit van 100 km voltooi, voordat hulle ’n 2-ster 120 km en daarna ʼn 3-ster 160 km kan aanpak.
Daar is ook ERASA (Endurance Ride Association of South Africa) afstande van 40 km – 160 km wat op die dag afgelê word. Uiters streng reëls geld om te verseker dat die ruiters en perde nie net veilig nie, maar ook gesond die rit voltooi.
Veeartse speel ’n deurslaggewende rol en toets elke perd na elke been om seker te maak dat hulle nie uitgeput en ooreis word nie. Hierdie streng standaarde gee die sport nasionale en internasionale geloofwaardigheid en stel die welstand van die perd altyd eerste.
Die Victorious Challenge word moontlik gemaak deur die hoofborg, HH Sheikh Nasser Bin Hamad Al Kha-lifa van Bahrain, wat sy ondersteuning aan die Suid-Afrikaanse perdeuithouritsport verleen en só help om plaaslike ruiters toegang tot internasionale-gehalte kompetisies te gee.
Buiten die aksie en spanning op die baan is daar ook geselligheid.
’n Smaaklike spitbraai vind Vrydag-aand plaas. Besoekers is welkom om saam te kom kuier en kan kaartjies koop teen R150 per persoon.
Kaartjies is beskikbaar by Angelique – 076 606 2554. Donderdagaand sal heerlike lasagne te koop aangebied word. Met perdekrag, internasionale flair en Karoo-gasvryheid beloof die Victorious Challenge om Oudtshoorn se sport-kalender met trots aan te vul. (ANGELIQUE ERASMUS)
Wêreldklas uithouritperde op Oudtshoorn
