Kommer oor taxi’s en Covid-regulasies

DAAR is kommer op Oudtshoorn oor die veiligheid van taxi’s as vervoermiddel vir inwoners.

Praat ’n mens met taxigebruikers is die terug­voer dieselfde: Daar is bykans geen toepassing van die reëls dat bestuurders en passasiers maskers moet dra nie, terwyl hul hande nie gereinig word voordat hulle in ’n taxi klim nie. Hulle is ook bekommerd dat daar nie afstand in taxi’s gehandhaaf word nie en mense styf langs mekaar sit.

Ook werkgewers is bekommerd oor hul perso­neel. “Mense wat in taxi’s ry, werk dwars­oor Oudts­hoorn – van ouetehuise tot hotelle. Hulle kom daagliks in aanraking met inwoners en besoekers aan die dorp. Die taxibedryf stel hierdie weerlose mense wat nie ’n ander manier van vervoer het nie, bloot aan besmetting met Covid-19,” sê ’n ontstelde Niel Els, mede-eienaar van die Turnberry Boutique Hote. Els sê hy is baie ontsteld oor wat inwoners vertel oor hul ervarings in taxi’s en by die dorp se taxistaanplek.

’n Inwoner met ko-morbiditeite sê sy gebruik saamrygeleenthede omdat sy nie kans sien vir die risiko van ’n taxi nie. Nog ’n vrou sê sy stap eerder die kilometers van Bridgton af werk toe en terug.

Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is hulle bewus van die probleem met die nie-nakoming van Covid-19-protokol by die taxistaanplek in die middedorp.

“Regulasies bepaal dat maskers te alle tye gedra moet word, maar ongelukkig het die wet geen strafbepaling gemaak nie, wat beteken ons mag nie teen die mense optree nie, maar kan hulle slegs versoek om aan regulasies te voldoen en waarsku.

“Wat taxi’s betref, is daar ’n regulasie dat almal maskers moet dra en die bestuurder is die een wat hiervoor verantwoordelik gehou moet word.”

Visser sê die munisipale en provinsiale verkeersdienste én die munisipale wetstoepassers het saam met die polisie die verantwoordelikheid om toe te sien dat regulasies toegepas word.

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, sê die munisipaliteit skenk tans dringende aandag aan die probleem en dat wetstoe­passers gereeld uitgestuur word na probleemsituasies. Volgens Macpherson het hulle ’n versoek aan die distrik gerig vir bykomende wetstoepassers. Volgens hom kan taxi-eienaars hul lisensies verloor indien hulle nie die veiligheidsmaatreëls nakom nie. (Deur Liesel le Roux)