Black Joint en Kanaal smeek vir aandag

AL bestaan die gemeenskappe van Black Joint en Kanaal op Oudtshoorn volgens inwoners vir meer as tien jaar, veg hulle steeds vir basiese geriewe en dienslewering, en smeek hulle vir die Oudts­hoorn Munisipaliteit se aandag.

Hoofman Andrew Damons en Gerrit van Wyk, lede van die Wyk 8-nedersettingskomitee wat ge­stig is om probleme in dié wyk aan te spreek, het onlangs aan Die Hoorn vertel dat dienslewering in hul wyk “erg ontbreek”.

Buiten dié gebrek aan dienslewering, sê Damons en Van Wyk, benodig die gemeenskappe onder Wyk 8 toegang tot behoorlike toiletgeriewe en sanitasie, behuising, voorsiening van krag, en rommelverwydering.

“Hier is geen infrastruktuur nie, en almal – insluitend kinders, bejaardes en gestremdes – leef in haglike omstandighede.”

Volgens die mans bestaan die gemeenskap van Hopeville, wat teen die pad geleë is langsaan die Oudtshoorn Gholfbaan by die uitgang na De Rust, omtrent net ’n jaar, “maar omdat mense hulle kan sien, het die munisipaliteit seker gemaak dit lyk netjies daar.”. Hulle wil hê die provinsiale regering moet ingryp.

Hulle sê in hul mees onlangse onderhandelinge met die Oudtshoorn Munisipaliteit in Mei 2019 is hulle beloof dat minstens 138 strukture van krag voorsien sou word. “Ons glo dit was deel van MIG-befondsing (municipal infrastructure grant) van R2,3miljoen, maar tot nou toe is niks gelewer nie. Ons het hulle tyd gegee, en verstaan werksaamhede van die munisipaliteit vat oor die algemeen lank, maar met elke uitstel wat die munisipaliteit vir ons gegee het, het daar nooit iets van gekom nie. Waar is die geld?”

Volgens die nedersettingskomitee is die ge­meenskappe gefrustreerd en siek en sat van “leë beloftes” rakende kragvoorsiening en behuising.

“Ons dra die behoeftes van die gemeenskap oor aan die munisipaliteit en dra dan die munisipaliteit se terugvoer oor aan ons mense omdat ons ’n mandaat van hulle ontvang het, maar met elke dag wat verbygaan en wat gesprekke met die munisipaliteit geen vrug dra nie, word ’n wig tussen die komitee en die gemeenskap ingedryf,” sê Damons en Van Wyk.

’n Navraag is op 11 Desember aan die munisipaliteit gestuur, maar teen druktyd is nog geen terugvoer ontvang nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)