Jo-Anne Daniels, die bedroefde ma van klein Juwandre.
Foto: Deon Meyer
’N SESJARIGE seuntjie van Nissenville in Ladismith, Juwandré Daniels, is laat middag Donderdag (10 Desember) dood nadat hy na bewering aan ’n los draad gevat het wat van ’n hoogspanningskabel op ’n oop stuk grond gehang het. Die oop veld grens aan Peceurstraat.
Die Kannaland Munisipaliteit was die eerste om die voorval wat tot ’n kragonderbreking in die gebied gelei het, op hul Facebook-bladsy bekend te maak.
Inwoners van die omgewing wat dié Donderdagmiddag op hul huis se stoep gesit het, vertel hulle het van die voorval bewus geword toe hulle ’n seuntjie soos ’n lap deur die lug sien trek het.
Juwandrè en sy boesemvriend, Jerenawin Stuurman (12), het volgens die ouer seun se ouers, Jimmy en Ans Stuurman, gereeld op die oop stuk grond gespeel.
’n Snikkende Jerenawin het aan Die Hoorn gesê: “ ’n Lang, los draad het oor die lektriekdrade gehang. Juwandrè het aan die draad gevat en ek het na hom gehardloop om hom te keer. Ek het hom om die lyf gevat, maar toe voel ek die skok.
“Ek het dadelik huis toe gehardloop en aan my ouers vertel wat gebeur het.”
Die Stuurmans het Vrydagoggend op die toneel met Die Hoorn gesels, terwyl Ans die swart kol op die gras waar Juwandrè se liggaam gelê het, met sand begin bedek het. Albei was sigbaar geskok en die ongeloof duidelik in hul stemme. “Ons treur saam met Jo-Anne. Dit kon ons seun gewees het,” het Ans gesê.
Juwandrè se ma, Jo-Anne Daniels (30), was tydens ’n besoek erg geskok en ontsteld. Volgens haar het Juwandrè Donderdagoggend opgestaan en soos gewoonlik na Jerenawin (Nawin) gegaan.
“Hy het later teruggekom en gesê dat hy honger was. Hy het geëet en is weer na Nawin toe. Die namiddag is hy weer met ’n paar appelkosies na Nawin toe.”
Sy sê ’n jong meisie het vir haar van die frats-ongeluk kom sê. “Ek het na die plek gehardloop. Ek wou net aan Wandrè vat. Die mense het my gekeer en gesê daar is nog krag in hom. Hy het op sy magie gelê… Sy handjie was swart gebrand. Ek is stukkend…”
Juwandre se ligaam is deur die Forensiese Patologiese Dienste van die toneel verwyder. Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, word die voorval tans deur die Ladismith Polisie ondersoek en sal ’n lykskouing gedoen word om die moontlike oorsaak van sy dood te bepaal.
Pojie sê lede van die polisie se misdaadvoorkomingsafdeling is omstreeks 19:00 in Peceurstraat deur inwoners voorgekeer en ingelig dat ’n sesjarige seun deur ’n elektriese kabel geskok is. (Deur Deon Meyer)
