DIE ANC was verlede Woensdag (9 Desember) die groot wenner deur twee van drie tussenverkiesings in die Groter Oudtshoorn te wen. Wyke 5 en 10 se kiesers het die ANC gehelp om dié wyke by die DA af te neem, terwyl die DA Wyk 4 naelskraap met 14 stemme gewen het.
Die Groter Oudtshoorn se nuwe raadslede is Felix September (Wyk 4, DA), Naomi Jonkers (Wyk 5, ANC) en Booi Berry (Wyk 10, ANC).
Die drie voormalige DA-raadslede wat einde September uit dié wyke bedank en die tussenverkiesing as onafhanklike kandidate aangedurf het, Ewa Fortuin (Wyk 4), Hendrik Ruiters (Wyk 5) en Nellie Soman (Wyk 10), het nie veel hond haar-af gemaak nie. Soman het die beste van die drie gevaar met 127 stemme, terwyl Fortuin slegs 77 en Ruiters slegs 32 stemme op hulle kon verenig.
Die ANC het veral in Dysseldorp sterk vertoon (671 stemme) terwyl Dysselsdorp ook die wyk was waar GOOD (427 stemme) en die EFF (50 stemme) die beste gevaar het.
Partye waarby Patricia de Lille betrokke is, was histories nog altyd suksesvol in Dysselsdorp.
Die EFF het op sy beurt sleg pak gekry by die stembus met net ’n paar handevol stemme, terwyl die onafhanklike kandidate ook oor die algemeen gesukkel het. Die uitsondering was Athur Bezuidenhout in Wyk 5 wat 221 stemme gekry het. Bezuidenhout is gesteun deur die beweging Independents for Oudtshoorn (IFO).
Die DA het na die tussenverkiesings steeds ’n meerderheid in die raad met 12 raadslede, maar het sy algehele meerderheid in die raad verloor omdat ’n meerderheid van 13 uit die 25 raadslede se stemme nodig is vir die deurvoer van besluite.
Die Groter Oudtshoorn-raad is sedert 4 Augustus onder die beheer van ’n koalisie van die DA en die kleiner partye Sarco en Icosa.
• Die tussenverkiesing se uitslae in die Groter Oudtshoorn was soos volg:
Wyk 4: DA 505; ANC 491; GOOD 66; Onafhanklik (Ewa Fortuin) 77; GOOD 66; EFF 12; Onafhanklik (Mlandeli Nyuka) 11. Stempersentasie: 37,53%.
Wyk 5: ANC 490; DA 379; Onafhanklik (Athur Bezuidenhout) 221; GOOD 193; Onafhanklik (Attie van Niekerk) 122. Onafhanklik (Hendrik Ruiters) 32; EFF 17. Stempersentasie: 42,76%.
Wyk 10: ANC 671; GOOD 427; DA 333; Onafhanklik (Nellie Soman) 127; EFF 50. Stempersentasie: 43.59%. (Deur Liesel le Roux)