HULLE is bekommerd oor die omstandighede waarin die Polisie in Kannaland en die Groter Oudtshoorn werk nadat hulle personeeltekorte, ’n gebrek aan voertuie en ’n vervalle gebou gevind het tydens hoflikheidsbesoeke aan polisiekantore in dié twee gebiede.
So sê Okkie Terblanche, DA-kiesafdelingshoof van die Groter Oudtshoorn en provinsiale parlementslid, wat hoflikheidsbesoeke aan Oudtshoorn en Dysselsdorp se polisiekantore gebring het, en Eleanore Bouw-Spies, DA-kiesafdelingshoof van Kannaland en provinsiale parlementslid, wat ’n hoflikheidsbesoek aan Calitzdorp se polisiekantoor gebring het.
Bouw-Spies sê sy was nie verras toe sy in Calitzdorp gevind het die polisiekantoor is, soos ander polisiekantore in die provinsie, onderbeman nie. Dié polisiekantoor het drie voertuie, waarvan een hul eie is. Tydens haar besoek was een elders vir herstel. Die ander twee is van Oudtshoorn geleen, waar daar ook tekorte is.
“Dit is nie volhoubaar nie. Ons kan nie verwag dat ons mense veilig moet wees as die SAPD nie toegerus is om hulle veilig te hou nie.”
Sy het die Calitzdorp Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) bedank vir hul harde werk om te help om die dorp te beveilig
Terblanche sê met werkloosheid wat ’n groot probleem op Oudtshoorn is, is dit belangrik dat daar genoeg personeel moet wees om misdaad te beveg sodat beleggers bereid sal wees om in die dorp te belê.
Hy het tydens sy besoek met die stasiebevelvoerder, brig Susan Crafford, gesprek gevoer, en later ook met Hennie Davel, bestuurslid van die Oudtshoorn Besigheidskamer verantwoordelik vir veiligheid, oor stappe wat gedoen kan word om die gemeenskap te beveilig.
“Om misdaad aan te spreek en so ekonomiese groei te stimuleer, verg goeie samewerking tussen rolspelers soos die Polisie, buurtwagte, die stads-raad en die provinsie.
Terblanche sê tydens sy besoek aan die Dysselsdorp-polisiekantoor het dit onder sy aandag gekom dat daar ’n tekort is van 14,81% in sigbare polisiëring met geen bevelvoerder vir die afdeling nie, asook ’n 25%-tekort aan speurders met diegene wat daar is wat tans elkeen 80 dossiere moet hanteer.
Die kommerwekkendste vir hom was egter dat die amptelike Dysselsdorp-polisiekantoor onveilig verklaar is as gevolg van strukturele probleme, met polisiebeamptes wat moes skuif na ’n beknopte, onvoldoende werkspasie.
“Ons polisiebeamptes kan nie in sulke omstandighede werk nie,” het hy gesê.
“Misdaad bedreig nie net die veiligheid van ons mense nie, maar ook die plaaslike ekonomie en werkskepping. Wanneer misdaad toeneem, sal nuwe besighede nie hul deure op ons dorpe oopmaak en broodnodige werkgeleenthede skep nie.”
Terblanche is ook ’n lid van die provinsiale portefeuljekomitee vir Polisie en het onderneem om sy bevindings aan die komitee te rapporteer. “Dit is noodsaaklik dat die ANC-regering die tekort-kominge in die SAPD erken. Dit kan slegs oorkom word as polisiëring oorgedra word aan bekwame provinsies soos die Wes-Kaap.”
Bouwe-Spies sê sy gaan die Wes-Kaapse minis-ter van gemeenskapsveiligheid en polisie-oorsig, Reagan Allen, asook ministers van ander relevante departmente kontak om te verseker dat amptenare saamwerk om misdaad te bekamp, en toesien dat ’n databais geskep word van alle organisasies en instellings wat gemeenskapsopheffingsprogramme aanbied deur so polisiekantore waar nodig te ondersteun. “Misdaad is steeds ’n groot bron van kommer in die gemeenskap en ons wil hard werk om Kannaland ’n veiliger plek te maak.” (Deur Liesel le Roux)
Kommer oor personeel- en
voertuigtekorte, onveilige gebou
Okkie Terblance, DA-kiesafdelingshoof van Oudtshoorn in gesprek met personeel tydens ’n besoek aan die Dysselsdorp Polisiekantoor. Foto verskaf