DIE struikelblokke wat nog in die pad ge-staan het van die voltooiing van die Blossomsnoodwaterpyplyn na Oudtshoorn, is hopelik nou uit die weg geruim.
Die Groter Oudtshoorn se munisipale raad het verlede Woensdag (6 Julie) goedkeuring verleen dat ’n ooreenkoms met die twee grondeienaars oor wie se eiendom die grootste gedeelte van die Blossoms-pyplyn loop, gesluit kan word.
Dié onderhandelde ooreenkoms het gevolg ná talle gesprekke die afgelope paar jaar tussen grondeienaars en die munisipaliteit.
Ander grondeienaars oor wie se eiendom die pyplyn loop, het reeds verlede jaar toestemming gegee.
Die pyplyn van sowat 24 km lank is ’n goedgekeurde projek van die nasionale Departement van Water en Sanitasie wat dit ook gefinansier het, en loop van die Blossoms-diepwaterboorgatveld tussen Oudtshoorn en George na die Groter Oudtshoorn-waternetwerk. Die koste van dié projek is R100 miljoen.
Water uit die pyplyn sal ook die Klein Karoo Landelike Watervoorsieningskema (KKLWVS) aanvul aangesien dié skema se boorgate uit die Vermaaksrivier naby Dysselsdorp reeds teen maksimumkapasiteit onttrek word.
Die konstruksie van die pyplyn het in 2021 afgeskop, met die eerste 5 km wat in Junie 2021 voltooi is. Met die laaste deel van die geld wat vanjaar beskikbaar gestel is, gaan die konstruksie voort met nog sowat 5 km wat in Augustus voltooi sal wees en die res van die pyplyn teen Maart 2023.
Opgradering van Infrastruktuur by Raubenheimerdam en toevoer na dorp
Daar is die afgelope jaar opgrade-ringswerk aan die waterinfrastruktuur by die Raubenheimerdam gedoen. Die beheerkleppe wat die toevoer na die dorp se reservoirs outomaties beheer asook ’n hele aantal lugkleppe wat die pyplyn teen barste beskerm, is vervang. Daarbene-wens is die chlooraanleg by die dam ook opgradeer.
Beurtkrag veroorsaak watertekorte op Dysselsdorp
Die huidige intensiteit van beurtkrag het tot gevolg dat daar nie genoeg water uit boorgate in die Vermaaksrivier in die Kammanassieberge gepomp kan word vir gebruikers van die Klein Karoo Landelike Waterskema (KKLWS) en die hoogliggende dele van Dysselsdorp nie. Dié probleem sal volgens ’n kennisgewing van die munisipaliteit eers kan verbeter wanneer beurtkrag verlig word.
Daar word tans ondersoek gedoen na noodkragtoevoeropsies, soos kragopwekkers, maar die ontoeganklikheid van die boorgate bemoeilik die voorsiening van noodkrag.
Asbespype vervang
Volgens Swart is die munisipaliteit besig met die geleidelike vervanging van ou asbespype met die hulp van munisipale infrastruktuurfondse (MIG-fondse) van die nasionale regering – ’n bedrag van R30miljoen vir die 2021/2022/2023-boekjare. Tot hede is sowat 12 km-pyplyn vervang. Dit sluit die ou pyplyn van die Raubenheimerdam na die Kango Grotte, wat gereeld probleme gee, asook die grootste gedeelte van die pyp in Victoria-straat in.
Met die huidige fondse beskikbaar, word beoog om ’n verdere 12 km oor die volgende twee jaar te vervang. Dit is egter ’n langdurige proses aangesien meer as 80% van die dorp se sowat 300 km pyp-lyn vervang sal moet word.
Waterpyplyne in landelike gebiede
Volgens Swart is daar vanjaar ook die eerste keer geld op die munisipale begro-ting om pyplyne in dele van die landelike gebiede te lê waar water tans nog weekliks per vragmotor afgelaai word. Met R3,5miljoen wat daarvoor begroot is, word beoog om ’n waterpyplyn in die Schoemanshoek-omgewing aan te lê. (Deur Liesel le Roux)
Blossoms-noodpyplyn hopelik in Maart 2023 voltooi ná groen lig vir ooreenkoms met grondeienaars
Onder die heelwat opgraderingswerk wat die laaste tyd op waterinfrastruktuur gedoen is, was opgradering op die waterinfrastruktuur tussen die Raubenheimerdam en Oudtshoorn. (Foto verskaf)