Sakebedrywighede brei uit in middedorp

Ná die moedeloosheid wat die Covid-19-tydperk meegebring het met talle sakepersele in Oudtshoorn se middedorp wat leeg gestaan het, is daar tans duidelik ’n ommeswaai op die dorp met nuwe huurders en eienaars van persele.

Volgens Hennie Davel, eienaar van Y-Not Prperties op Oudthoorn, is al die persele in die middedorp wat die laaste twee jaar lank leeg geraak het, weer verhuur of verkoop.

Die gedeelte in Hoogstraat tussen die ou Absa-gebou en die ou Edgars-gebou wat geruime tyd leeg was, spog nou met verskeie nuwe winkels wat die afgelope maande hul deure geopen het.

“Dit is regtig iets positief waarvan die dorp se mense kan kennis neem,” sê hy.

“Huurbesetting in die middedorp is vol en op die ander persele is daar planne vir die toekoms.

“Ek hoop net dat wetstoepassing in die middedorp aangespreek gaan word.”

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, sê daar is planne vir gesprekke met winkeleienaars in die middedorp om probleme wat bestaan te identifiseer en aan te spreek.

Volgens hom wil die munisipaliteit bydra om ’n milieu te skep waarbinne besighede suksesvol op Oudtshoorn kan opereer.

Dit sluit in aandag aan die parkeersituasie in die middedorp en oplossings hoe om dit vir kliënte makliker te maak om parkering te kry en winkels te besoek.

Volgens Macpherson geniet die situasie by die taxistaanplek in die middedorp ook tans aandag.

Hy sê gesprekke word met taxi-eienaars gevoer met die munisipaliteit wat ook beoog om aandag te skenk aan die beligting en die toiletgeriewe by die taxi-staanplek.

Winkelsentrums: Queen’s Mall

Ook elders op Oudtshoorn word gewerk om inwoners van Oudtshoorn en die omliggende gebiede ’n beter koopervaring te bied.

Die uitbreiding en opgradering van die Queen’s Mall in Voortrekkerweg nader tans voltooiing met Vestsec Ten, die maatskappy wat die Queen’s Mall besit, wat tans op eie koste grootskaalse opgradering en instandhouding doen van ’n gedeelte van die parkeerterrein wat aan die munisipaliteit behoort.

Veiligheid by die sentrum is ook reeds verder verskerp met onder meer nog sekuriteitskameras wat geïnstalleer is.

Winkelsentrum by dorpsingang
Volgens Macpherson word steeds beoog om ’n winkelsentrum op die hoek van Langenhovenweg en Rademeyerstraat te bou, en is dié projek nie van die baan nie.

Hy sê hy is in gesprek met die ontwikkelaar oor die ontwikkeling.

Volgens Macpherson maak die huidige wêreldwye uitdagende ekonomiese klimaat dit egter wel nodig om te herbesin oor aspekte soos die omvang van die projek en sal sekere aanpassings waarskynlik gemaak moet word.

“Daar vind tans samesprekings oor die projek plaas.”

Winkelsentrum in Bridgton
Werk gaan tans voort aan die Bridgton Sentrum op die oop terrein langs die Bridgton Kliniek, sê Rutger Boshoff van Somerset-Wes, nuwe ontwikkelaar én bouer van die sentrum.

Die sentrum, wat ’n groot rol sal speel om winkels nader te bring aan ’n groot deel van Oudts­hoorn se inwoners wat nie oor voertuie beskik om hulle na winkels in die middedorp te vervoer nie, sal onder meer ’n Shoprite, nog vier winkels en drie kitsbanke huisves.

Boshoff sê nog huurspasie is beskikbaar en belangstellende huurders is welkom om met hom in aanraking te kom..

Woonontwikkelings
Beplanning vir twee woonontwikkelings in die Wesbank-omgewing, die Sable Cape-ontwikkeling langs die Welgeluk-pad en die Pepperwood Estate in Albertstraat, gaan ook voort, sê Macpherson. (Deur Liesel le Roux)