DIE saak teen ’n egpaar van Oudtshoorn wat van versekeringsbedrog en geldwassery aangekla word, is verlede week in die streekhof met die getuienis van die ondersoekbeampte voortgesit.
Desiree Bowkers (38) staan saam met haar man, Ricardo (40) wat tans ’n vonnis van 12 jaar uitdien vir bedrog en geldwassery, tereg op nog 22 soortgelyke klagtes.
Hulle het na bewering vals eise by Santam en Mutual & Federal ingedien en die uitbetalings vir hulself toegeëien.
Van die oortredings is glo gepleeg terwyl Ricardo in aanhouding was.
Sers Edville Dean van die Valke het getuig hoedat die egpaar te werk gegaan het om van die versekeringsmaatskappye te eis.
Die eise het volgens Dean grootliks gegaan oor skootrekenaars, kameras en selfone wat na bewering gesteel of weggeraak het.
Dit is by die polisie aangemeld om saaknommers te verkry.
Dean het ook vorige sake van Ricardo Bowkers ondersoek en sy stem herken as die persoon wat elke keer Santam geskakel het om ’n eis in te dien.
Volgens Dean het Bowkers in die meeste gevalle sy vrou se bankrekeningnommer verskaf vir die inbetaling van die bedrag wat geëis is en in sommige gevalle die banrekeningnommer van een van hul kinders.
Die saak is deur streeklanddros Ntsoki Moni vir die kruisondervraging van Dean tot 4 Augustus uitgestel.
Desiree Bowkers is uit op waarskuwing. (Deur Garnett Wicomb)