KORT na die aankondiging van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) dat Veronica Michaels voorts as Saamstaan Suid-Afrika se raadslid in die Oudtshoorn Munisipale Raad sal optree, het Michaels se party Maandag (22 Mei) ’n koalisie-ooreenkoms met die DA, VF Plus en Icosa gesluit.
Die Hoorn het reeds in die uitgawe van 18 Mei berig dat die OVK die Munisipale Bestuurder, Walter Hendricks, op 3 Mei in kennis gestel het van die veranderinge binne die Saamstaan Suid-Afrika party.
Michaels het Mlandeli Nyuka vervang as die proporsionele raadslid wat Saamstaan Suid-Afrika (ISASA) gaan verteen- woordig op die raad. Tydens Maandag se ondertekening van die ooreenkoms – bygewoon deur burgemeester Chris Macpherson (DA), Saamstaan Suid-Afrika se amptelike leier, Shapiro Michaels; speaker Johan Allers (VF Plus), Michaels self en onder-burgemeester, Vlancio Donson (Icosa) – het alle partye onderneem om tot die beste van die dorp en sy inwoners op te tree. Michaels se amptelike inswering as raadslid sal tydens die volgende gewone raadsvergadering plaasvind. (Deur Stefan Skapie Goosen)