‘Dis asof die Menseregtekommissie net nie omgee nie’

Oudtshoorn se Glen Snyman wat op ’n kruistog is om rasseklassifikasie in Suid-Afrika afgeskaf te kry. Snyman het verlede week die voorblaaie van verskeie nasionale koerante gehaal vir sy kritiek op die SA Menseregtekommissie (SAMRK) wat die Parlement se sperdatum vir 'n standpunt oor rasseklassifikasie misgeloop het. Foto verskaf

“DIS asof die Menseregtekommissie net nie omgee nie.”

Dit was die afgelope week die woorde van die Oudtshoorniet en stigter van People Against Race Classification (PARC), Glen Snyman, nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) die nasionale parlement se sperdatum vir ’n standpunt oor rasseklassifikasie misgeloop het.

Snyman is al etlike jare op ’n kruistog om rasseklassifikasie in Suid-Afrika afgeskaf te kry.

PARC het in 2021 die parlement genader met ’n petisie waarin gevra is vir die verwydering van die woord “coloured” van alle regerings- en private dokumente.

Die versoek het in Februarie 2022 voor die parlement gedien.

Volgens PARC se petisie is die woord “coloured” verwarrend, beledigend, rassisties en verbloem dit die historiese identiteit van die khoi en San-mense.

Die petisie sê ook dit is rassisties om te dink dat twee rasse saam ’n derde ras kan skep, of om te glo wit en swart is suiwer rasse.

PARC vra dat die woord “African” gebruik word om alle mense in te sluit met Suid-Afrikaanse burgerskap; asook dat die wet gewysig word om ’n definisie van “ander ras” in te sluit en so voorsiening te maak vir mense wat nie rasgeklassifiseer wil word nie.

Na beraadslaging het die parlement se petisiekomitee in Junie 2022 ’n nasionale debat aanbeveel om die erkenning van Suid-Afrikaanse inheemse gemeenskappe te versnel.

Dit het ook onder meer die SAMRK ses maande gegee om navorsing te doen oor die kwessies wat geopper is en terugvoer te gee aan die parlement.

Maar volgens Snyman is daar nou al meer as ses maande later steeds geen woord van die SAMRK nie.

“My vraag is: Wat doen ons wanneer ’n Artikel 9-instelling soos die Menseregtekommissie begin om opdragte van die parlement te ignoreer? Dit is asof hulle nie omgee vir my of ons nie, of hulle jou ’n kleurling of wat noem nie.

“Die Menseregtekommissie moet net aan Suid-Afrikaners en die internasionale gemeenskap sê wat hul standpunt is oor rasseklassifikasie. Dit is al wat ons in hierdie stadium wil weet,

“Verskeie ander liggame soos die KhoiSan-kultuurhuis, die departemente van Binnelandse sake en Arbeid het gou gereageer toe hulle deur die Parlement oor hul standpunt gevra is.”

Luidens ’n berig in die Cape Times, op 15 Mei het Wisani Baloyi, woordvoerder van SAMRK, gesê ’n gebrek aan fondse vir navorsing is die rede waarom daar nog nie reaksie van hul kant was nie.

Hy sê die SAMRK is van mening dat sulke navorsing aansienlik sal wees en dat daar geen positiewe reaksie was op hul navrae oor beskikbaarheid van bykomende befondsing vir die navorsing en tydsraamwerke nie. (Deur Liesel le Roux)