Koalisie gaan uitdaging wees

’N UITDAGENDE vyf jaar lê vir die Groter Oudtshoorn voor met ’n waarskynlike koalisieregering van verskeie partye wat die raad ná die munisipale verkiesings van verlede week sal beheer.

’n Eerste raadsvergadering van die nuwe raads­lede wat gister sou plaasgevind het, is uitgestel tot Woensdag (17 November) nadat van die partye gevra het vir meer tyd voordat dit plaasvind.

Die ANC het die meeste raadslede (agt) nadat die party agt van die dertien wyke gewen het. Die party se persentasie stemme was 28,33%.

Die DA het die tweede meeste raadslede (sewe) nadat die party vier wyke gewen het en drie proporsionele raadslede op grond van sy persentasie stemme (30,93%) bygekry het.

Die VF Plus het drie raadslede – een wyksraadslid en twee proporsionele raads­lede. Hul persentasie stemme was 11,69%.
Ses ander partye het op grond van hul persentasie stemme proporsionele raadslede wat in die raad dien, naamlik Icosa (6,58% – 2 raadslede), en een raadslid elk vir die Oudtshoorn Gemeenskapsinisiatief (5,33%), Good (4,22%), die Advieskantoor (3,68%), Patriotic Alliance (3,49%) en Suid-Kaap Saamstaan (1,62%). Al die partye met een raadslid asook die VF Plus is nuwelinge tot die raad.

Onder die partye wat die raad in 2016 gehaal het, maar dit nie weer kon regkry nie, is die EFF wat slegs 1,34% van die stemme gewen het, Sarco met 1,17% en die ACDP met 0,95%.

Vir ’n meerderheid in die raad om enige besluit te kan deurvoer, moet dertien van die Groter Oudts­hoorn se 25 raadslede dit steun. Daarom moet ’n regerende koalisie uit minstens dertien raadslede bestaan. Dit beteken dat minstens vyf uit die nege partye wat tot die raad verkies is, sal moet saam­werk.

Drie nasionale partye wat in die Groter Oudtshoorn-raad verteenwoordig is, het sekere voorwaardes gestel vir hul raadslede om betrokke te raak by koalisies. Nasionale leiers van die DA en die VF Plus het kort ná die verkiesing aangedui dat die partye nie met die ANC in ’n koalisie sal gaan nie, terwyl Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, die begin van die week bekend gemaak het dat die party by geen regerende koalisie in ’n munisipaliteit sal betrokke raak nie en eerder in die opposisiebanke sal sit.

Tydens onderhandelings kan die hoogsbetaalde raadsposte van burgemeester, onderburgemeester en speaker ook ’n belangrike onderhandelingspunt raak. In die verlede het partye of individue byvoorbeeld posisies soos die van burgemeester, onderburgemeester of speaker in die Groter Oudtshoorn geëis voordat hulle toegestem het tot samewerking.

Die talle partye wat tot die raad verkies is, is waar­skynlik in ’n sekere mate aanduidend van verdeeldheid of onsekerheid onder Oudtshoorniete vir watter party hulle moes stem. ’n Groter wegblystem as in 2016, met slegs 23 156 van die 52 233 geregistreerde kiesers (44,29%) wat by die stembus opgedaag het, het ook vermoedelik bygedra. In 2016 het 55,07%, naamlik 28 932 van die 52 443 geregistreerde kiesers, gestem.

Die wegblystem van kiesers is inderdaad net so geldig as die stem van diegene wat in toue gaan staan het om hul keuses uit te oefen – omdat wegblyers meer mag gee aan diegene wat wel gaan stem.

So krimp en groei steun vir 3 grootste partye in die raad

• Die OVK se statistiek toon die DA se steun in die Groter Oudtshoorn het in die afgelope verkiesing gekrimp, van ’n meerderheid van 55,8% van die stemme in 2016 asook ’n volstrekte meerderheid van 13 raadslede tot 30,93% van die stemme in 2021 en 7 raadslede.

• Die ANC se steun het effens gegroei, van 26,81% van die steun in 2016 en 7 raadslede tot 28,33% en 8 raadslede in 2021.

• Die VF Plus se steun het ook geklim, vanaf 1,43% in 2016 tot 11,69% in 2021. Dié party het geen raadslede voorheen gehad nie en sal nou in die volgende vyf jaar drie raadslede in die raad hê.

Nou is die uitdaging vir partye nie net om ’n koalisie te sluit wat die Groter Oudtshoorn oor die volgende vyf jaar kan lei nie, maar om ’n koalisie te sluit wat verantwoordeik sal lei – ten opsigte van dienslewering, die bestuur van die munisipaliteit se finansies, en om dit so te doen dat die dorp en sy inwoners daarby sal baat. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "Koalisie gaan uitdaging wees"

  1. Elbé Kruyt | 13/11/2021 at 06:22 |

    Ons kan Oudtshoorn nou maar finaal groet. Die geplundery gaan net voortduur! Kyk net hoe lyk die state, vol gate. Maar een ding weet ek, steel soos julle wil, eendag sal julle verantwoording voor ‘n groot regterstoel moet doen en dit is nie soos ‘n wereld se regterstoel nie! Daaby kan jy nooit verby kom nie!!!!!!

Comments are closed.