DIT was ’n visvanguitstappie wat in ’n tragedie geëindig het.
Deno Prins (20) van Calitzdorp se lewe is op Woensdag 3 November 2021 kortgeknip toe hy en vriende in die Huisrivier in die Huisrivierpas gaan visvang het. Prins het tydens dié uitstappie onder die water verdwyn.
Hy is die tweede jong man wat binne ’n maand in Kannaland verdrink het.
Sowat ’n maand gelede het Ettienne Radloff in die Goewermentsdam by Ladismith verdrink.
Ronecia Julius, ’n vriendin van Prins, is gebroke.
“Ek kan dit nie glo nie. Ons was vanmiddag nog saam. Hy sou een van die dae sy mondigwording vier en is onlangs deur die Weermag aanvaar,” het sy gesê.
Volgens haar was Prins ’n rol-model vir jongmense.
Kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Polisie in die Suid-Kaap, sê Prins se liggaam is op 4 November deur polisieduikers uit die Huisrivier gehaal. “Die oorle-dene en vriende het gaan visvang. Geen gemene spel word vermoed nie,” het hy gesê. (Deur Deon Meyer)
Verdrinking in Huisrivier: ‘Deno was ’n rolmodel’
Deno Prins (20).