’N VROU van Bridgton in Oudtshoorn wat ’n sewejarige meisie met ’n klip teen haar voorkop gegooi het, is in die streekhof ’n opgeskorte vonnis opgelê en in huisarres.
Susan Prinsloo, bekend as “Twak”, is aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind.
Prinsloo het glo die kind die betrokke dag in Vyftiende Laan, Bridgton raakgegooi.
Die meisie moes twee hegsteke in die hospitaal kry na die voorval.
Prinsloo het in die hof ontken dat sy ’n klip opgetel en na enigiemand gegooi het.
Volgens haar is daar wel klippe na haar gegooi terwyl sy in haar erf gestaan het.
Die kind het deur middel van ’n tussenganger getuig dat sy gelê en slaap het toe sy ’n geraas in die pad gehoor en opgestaan het.
“Ek het saam met my ouma en suster op die sypaadjie gestaan en gesien hoedat Twak ’n klip optel en na ons gooi.
“Ek het gedink sy gooi vir iemand anders; toe gooi sy my raak,” het die kind getuig.
Volgens haar het haar suster en die beskuldigde vroeër gestry.
Streeklanddros Daniel Boks het Prinsloo se weergawe verwerp.
Sy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Sy is ook drie jaar korrektiewe toesig opgelê wat onder andere huisarres behels vir die volle tydperk, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes.
Prinsloo moet haar in dié tydperk ook weerhou van die gebruik van alkohol en dwelms. (Deur Garnett Wicomb)