DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n klagte van roekelose en nalatige bestuur nadat Jarrod de Jongh (19) Saterdagaand (6 November) ernstig beseer is in ’n botsing tussen sy BMW-motorfiets en ’n Toyota Hilux-bakkie.
Volgens sers Gretchen Michaels, polisiewoordvoerder, het die botsing omstreeks 19:40 in Langenhovenweg plaasgevind.
Michaels sê die bestuurder van die bakkie het na bewering in ’n noordelike rigting in Langenhovenweg gery, terwyl De Jongh in die teenoorgestelde rigting op pad was.
“Die bakkie wou regs indraai toe die motorfiets aankom vanuit ’n suidelike rigting, en die bakkie en motorfiets het gebots,” sê sy.
Volgens ’n inwoner wat op die toneel was, is die motorfiets onherkenbaar in die botsing beskadig.
De Jongh is per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem, en Sondag na die Mediclinic George oorgeplaas.
Die Hoorn het vertroulik verneem dat De Jongh talle beenbreuke opgedoen het, asook gesig- en moontlike kopbeserings.
Hy moes volgens dié bron ’n lang operasie ondergaan en is in ’n medies geïnduseerde koma geplaas.
Judy Muller, pasiëntervaringsbestuurder by die Mediclinic George en Geneva, het gister gesê die hospitaal kan nie reageer op navrae oor De Jongh se toestand nie omdat sy ouers verkies om nie in die stadium met die media te praat nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)
19-jarige ernstig na botsing
Jarrod de Jongh (19).