Jong ma sterf in botsing

Die swart Yaris waarin die Johannes-gesin gereis het. Foto: Deon Meyer

Natasha Johannes (28), en haar man Aniel op hul troudag op 6 Oktober.

’N JONG moeder van Ladismith, Natasha Johannes (28), het Sondag sowat 5 km buite Ladismith in ’n motorbotsing gesterf.

Natasha, haar man, Aniel, met wie sy slegs een maand getroud was, en hul vyfjarige seun was in die motor.
Die gesin was van Oudtshoorn na Ladismith in hul swart Toyota Yaris onderweg toe die botsing tussen 17:00 en 17:30 plaasvind.

“Mense het my hier kom vertel dat Aniel en Natasha in ’n ongeluk was. Ek kon dit nie glo nie. Die Polisie het dit later aan my bevestig. Ek kon nie myself by die hospitaal bedwing nie,” het Natasha se verslae moeder, Robaya Visagie, aan Die Hoorn gesê.

Die Yaris het na bewering op ’n draai waar reeds verskeie botsings plaasgevind het, teen ’n wit Volkswagen Polo gebots.
Volgens kapt Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is albei bestuurders en hul passasiers na die Alan Blyth Hospitaal op Ladismith geneem, waar hul mediese behande­ling ontvang het.

“Na bewering het twee Volkswagen Polo’s teen ’n hoë snelheid in die rigting van Zoar gejaag toe die botsing plaasgevind het. ’n Motoris, Alvin September, wat onderweg na Oudtshoorn was, het eerste op die toneel afgekom en onmiddellik die botsing by die Ladismith Polisiekantoor gaan aanmeld.

“Verkeer na Oudtshoorn moes hier­na deur die Hoekovallei na Oudts­hoorn en ander dorpe herlei word.”

Volgens Pojie word ’n saak van strafbare manslag ondersoek en duur die ondersoek voort. (Deur Deon Meyer)