Klein Karoo Klassique is terug!

KLEIN Karoo Klassique, Oudtshoorn se fees van klassieke musiek, is terug en vind vanjaar op 27 en 28 November plaas.

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk wat onder meer die KKNK en Klein Karoo Klassique aanbied, het dié aankondiging verlede Vrydag gemaak. Dié tradisionele winterfees wat vorige jare oor die lamgnaweek in Augustus plaasgevind het, vind vanjaar die eerste keer in die somer plaas, boonop op die vooraand van die feesseisoen in Suid-Afrika.

“Dit is wonderlik om weer die fees van klassieke musiek in Oudtshoorn te kan aanbied, en so die feesseisoen in te lei. Almal word uitgenooi om die fees te kom geniet en saam met ons in die Klein Karoo asem te skep,” sê Theart.

“Sonder die Rupert Musiekstigting, wat vanjaar die agtste keer by Klassique betrokke is, sou die fees nie moontlik gewees het nie. Sluit by ons aan vir ’n somerviering van die land se voorste klassieke musici met ’n program wat iets vir elke klassieke musieksmaak bied.”

So lyk Klassique se program
Saterdag 10:00: Guy Buttery en die Gqeberha-kwartet – met Buttery (akoestiese kitaar, sitar en mbira), David Bester (viool), Jan-Hendrik Harley (altviool), Lynn Daphne Rudolph (altviool) en Mariechen Meyer (kontrabas) .

Saterdag 15:00: Nina Schumann, een van Suid-Afrika se voorste pianiste, keer die eerste keer sedert 2012 terug na Oudtshoorn vir Skoonheid in variasie/Variasie in skoonheid met werke van Bach, Mendelssohn, Rachmaninoff en Medtner.

Saterdag 18:30: Skemerkonsert met Renee van der Westhuizen (tweede viool), Emile de Roubaix (altviool), Dane Coetzee (tjello) en Petrus de Beer (eerste viool). Dié buitelugvertoning by by Karusa bied ’n program van gewilde klassieke musiek, musiek uit musiekblyspele, bekende filmmusiek en selfs ’n paar klassieke verwerkings van hedendaagse gewilde treffers. Dié uitsonderlike strykkwartet speel werke van Mozart tot Andrew Lloyd Webber, Katy Perry tot Bach met die Karoo-sonsondergang as agtergrond. Gaste kan vroeg aanmeld vir Karusa se a-la-carte spyskaart en ’n familie-aand onder die Karoo-sterre.

Sondag 11:00: ’n Barok-Kersfees met lede van die Kaapstad Barokorkes – Lynelle Kenned (sopraan), Joshua Frank (blokfluit), Erik Dippenaar (klavesimbel en musikale leiding) – bied ’n program van Kersmusiek wat uittreksels uit Handel se Messiah en Corelli se Kersfees-concerto asook gewilde Kersgesange soos Joy to the World en O come, all ye faithful insluit. Die musiek word aangevul met voorlesings deur Sandra Prinsloo.

Spesiale kaartjiepakket vir al vier uitvoerings
’n Spesiale kaartjiepakket vir al vier uitvoerings bied ’n besparing van 20%. Kaartjies kan aanlyn by Quicket gekoop word.
Onthou ook dié twee spesiale Kerskonserte

Coenie de Villiers en Deon Meyer se spesiale vertoning, Karoo-Kersfees, op 25 en 26 November om 19:00 by Surval Boutique Olive Estate net buite Oudtshoorn. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by Quicket.

Celebratio Granaatplaas se Klassieke Klein Karoo Kersfees op 11 Desember onder die Klein Karoo se pragtige sterrehemel. Dié Kerskonsert het die afgelope paar jaar ’n instelling in die Klein Karoo geraak. Lynelle Kenned deel die verhoog met Jannie Moolman en Corlea Botha. Die soliste word begelei deur lede van die Stellenbosch Stads­orkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg. Kaartjies is aanlyn beskikbaar by www.celebratio.co.za of andersins by PostNet Oudtshoorn (laasgenoemde slegs kontant).

  • Meer inligting oor al die uitvoerings by www.klassique.co.za of tel 044 203 8600.