‘Klein oorwinnings’ teen rasseklassifikasie vir Glen

Glen Snyman. Foto verskaf

HOEWEL hy dankbaar is oor klein aanpassings wat deur staatsinstellings gemaak word in sy stryd teen die klassifikasie van Suid-Afrikaners volgens ras, is hy beslis nog nie tevrede dat genoeg gedoen is nie, sê Glen

Snyman, stigter van die drukgroep Parc (People Against Race Classisfication) en onderwyser van Oudtshoorn.
Snyman sê hy is egter bly oor klein oorwinnings soos die een van Dinsdag nadat hy ’n grief op 1 Maart ingedien het teen rasseklassifikasie op aansoekvorms van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD). Die WKOD het nou op hul aan­lynwerkaansoekblad die opsie “Other” by die rassekategorieë gevoeg. Aansoekers hoef dus nou nie meer hul ras aan te dui nie.

Die Z83-vorm waarop ’n mens kan aansoek doen vir werk by ’n regeringsaanstelling het ook intussen ’n “Other”-blokkie bygekry.

“Dié verandering is op 1 Januarie 2021 deur die minister van openbare dienste en administrasie in die staatskoerant gepubliseer,” sê Snyman. “Ek is nie heeltemal tevrede nie, want ek wou eintlik sien dat die rasblokkies verwyder word. Ek vra Suid-Afrikaners se samewerking. Vul die African- of die Other-blokkie in.”

Hy glo dat apartheid nog in Suid-Afri­ka se wette in die vorm van dié rasseklassifise­ringsblokkies be­staan.
Snyman het verlede jaar wêreldwyd nuusdek­king gekry toe die WKOD hom aangekla het van bedrog en wangedrag omdat hy in ’n aansoek vir ’n skoolhoofpos die blokkie genaamd “African” gemerk het terwyl hy volgens die departement bruin (“Coloured”) is. Die klagtes is egter voor die hofsaak deur die WKOD teruggetrek. (Deur Liesel le Roux)

1 Comment on "‘Klein oorwinnings’ teen rasseklassifikasie vir Glen"

  1. hester | 03/25/2021 at 19:53 |

    Die man hoort in die parliament. Doen so voort

Comments are closed.