DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het vandeesweek in ’n persverklaring ’n beroep op inwoners gedoen om mense te rapporteer wat munisipale eiendom beskadig.
Verwoesting van munisipale eiendom wat vervang of herstel moet word, kos die Oudtshoorn Munisipaliteit die laaste tyd derduisende rande.
Onder die jongste skade is die erge beskadiging van ligte by die Brook-pompstasie naby die Cango Wildlife Ranch in Baron van Reedestraat wat sowat R150 000 sal kos om te herstel.
Op 15 Februarie is voorts ontdek dat straatligte in Voortrekkerweg nie werk nie omdat mense kabels na die lamppale toe uitgegrawe het.
Die gebruik van munisipale fondse vir die herstel van hierdie doelbewuste skade plaas luidens die persverklaring tans groot finansiële druk op die munisipaliteit.
Enigiemand wat betrap word tydens dade van sulke vandalisme sal vervolg word.
Luidens die persverklaring het die munisipaliteit reeds dié vandalisme by die Oudtshoorn Polisie aangemeld vir verdere ondersoek.
Enigiemand met meer inligting oor die voorvalle word versoek om die munisipaliteit te kontak by tel 044 203 3000 / 7800.