Oudtshoorn se Millicent ’n Mev SA semi-finalis!

Millicent Biljohn van Oudtshoorn is ’n semi-finalis in vanjaar se Mev. Suid-Afrika-kompetisie. Foto verskaf

MILLICENT BILJOHN van Oudtshoorn is op 5 Maart vanjaar aangewys as een van die semi-finaliste in die Mevrou Suid-Afrika-kompetisie!

Dié jaarlikse kompetisie fokus op vroue tussen 25 en 50 jaar oud wat volgens die organiseerders “volwasse, gedrewe, ambisieuse en bowenal regte, betroubare vroue is wat daarna streef om die beste weergawes van hulself te wees.”

Millicent, was tot onlangs die takbestuurder van ’n beligtingsmaatskappy in Durban, KwaZulu-Natal voordat sy en haar gesin terug verhuis het na haar vorige tuisdorp, Oudtshoorn. Sy is getroud met Björn en die mamma van drie dogters van 11, 10 en 5 jaar oud.

Sy vertel die semi-finaliste is vanjaar as gevolg van Covid-19 virtueel gekies deur middel van die Mev SA se amptelike Instagram-blad.

Millicent is baie opgewonde oor die pad wat voor haar lê.

“Ek kon dit nie glo toe ek die nuus ontvang dat ek een van die top 100 semi-finaliste van 2021 is nie. Verlede jaar toe ons nog in Durban gewoon het, het ek ook ingeskryf nie maar nie die semi-finale ronde gehaal nie. Ek sien daarna uit om my bes te doen,” sê sy.

Millicent wil deur hierdie reis van haar alle vroue inspireer om hul drome te volg, en te streef en te baklei vir wat hulle wil hê in die lewe “tot die beste van hul vermoë, en met styl en selfvertroue.

“Ek hoop om ’n inspirasie en rolmodel vir elkeen te wees wat voel asof hulle ‘nie kan nie’, want ek weet hulle kan!”

Volgende op haar lys as semi-finalis is om borgskappe te kry, en om betrokke te raak by haar gemeenskap.

Stem vir Millicent Biljohn deur ’n sms met haar naam en van na 35959 te stuur. Elke sms kos R3. (Deur Stefan Skapie Goosen)