Kerk loop deur onder koperdiewe

‘Geen eerbied meer vir die kerk’ Die mure van die VGK Kerk in Bridgton is verlede week selfs stukkend gekap om die koperpype daar te bekom. Dié gebrek aan eerbied vir die kerk bekommer hom, sê ds André Boezak, leraar van die kerk. Foto verskaf

“DIT is uiters frustrerend en kommerwekkend dat mense nie eers meer eerbied betoon aan die kerk nie.”

Dit is die woorde van ds André Boezak van die bekende VGK Kerk in Bridgton na die diefstal verlede week van ko­perpype buite die kerk.

Volgens Boezak sukkel die kerk reeds jare lank met diefstal en vandalisme. In 2014 is daar sowat R49 000 se skade aan die kerk aangerig, en sedertdien is sulke voorvalle ’n gereelde gebeurtenis, sê hy.

“Omdat koper mos nou die ‘in ding’ is, kap hulle nou al mure oop om dit te kry. Ek wil half die reg in eie hande neem, maar ek weet ek kan nie. Ons kragboks is ook al in die verlede beskadig. Ek is eintlik moedeloos.”

En om die skade reg te stel is ook nie so maklik nie, sê Boezak, veral met die impak wat die Covid-pandemie steeds op mense se sakke het.

“Die inkomste van alle kerke het verminder omdat die gemeentes van elke kerk ook sukkel. Nou kom hier­die skurke en doen dit!

“En alle kerke loop deur; dis asof eerbied vir kerke heeltemal verlore gegaan het,” sê Boezak.

Volgens hom gebeur dit dat daar -ten spyte van die gemeentelede rondom die kerk wat uitkyk vir sulke “skurke” saam met die beperkte polisiepatrollies, selfs die plaveisel rondom die kerk ook al weggedra is, asook talle ander voorvalle van vandalisme.

“Selfs die mense in die woonbuur­te is al moedeloos hiervoor,” voeg hy by.

Al is sommige van die koperpype van die kerk skoonveld, sê Boezak dat die kerk darem steeds water het, en kan voortgaan totdat die pype vervang kan word. “Maar dit is so frustrerend! Dis soos daai muskiet wat mens heeltyd uit die slaap hou, en wat mens heeltyd rondjaag, maar hier­die raak nou ’n duur muskiet; dit raak ’n groot las.

“Dit is ’n tragedie dat ons as mens se morele waardes so gedaal het dat ons nie eers meer die kerk, of selfs mekaar, respekteer nie. Ek weet nie wat ons gaan doen nie, maar as iemand weer op die kerk se eiendom betrap word, sal die volle omvang van die reg op hulle neerkom,” waarsku Boezak.

’n Navraag oor die voorval is aan die Oudtshoorn Polisie gestuur, waarop kapt Louis Visser, woordvoerder, geen saak kon vind nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)