Kannaland: Skok na 3 moorde binne 5 dae

Op hierdie stuk pad, die Waterkloof-pad buite Ladismith in Kannaland, is die versteekte lyk van Lizel Isaacs (38) die naweek gevind. Foto: Deon Meyer

KANNALANDERS is geskok deur drie moorde wat binne die bestek van vyf dae in dié rustige deel van die Klein Karoo plaasgevind het.

Die Hoorn het verlede week berig oor die dood van Elouise de Waal (34) wat op 25 Februarie in die vroeë oggendure in Ladismith gesterf het nadat sy na bewering met ’n mes deur haar man in die nek gesteek is.

’n Tweede vrou, Lizel Isaacs (38), is Saterdagaand (27 Februarie 2021) vermoor en haar halfnaakte liggaam gevind waar dit langs die Waterkloof-pad buite Ladismith versteek was.

Na bewering is Isaacs eers verkrag en daarna vermoor.
Sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, sê Isaacs is op die toneel dood verklaar.

’n Verdagte (28) is Sondag in hegtenis geneem. Die lyk van die verdagte is egter later in die polisieselle gevind waar hy homself opgehang het.

“Die ondersoek na die moord gaan tans voort en die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek op hul beurt die voorval in die selle.”

Die derde moord was in die nabygeleë nedersetting Zoar waar ’n man Maandagaand (1 Februarie) gesterf het.

Steven Smith (27) is na bewering na ’n argument met ’n vriendin buite ’n kerk doodgesteek.

Volgens Spies is ’n 31-jarige vrou vir Smith se moord in hegtenis geneem.

“Die slagoffer is met die aankoms van die paramedici op die toneel dood verklaar,” sê Spies. (Deur Deon Meyer)