Blossoms: Lê van noodpyplyn skop af op Oudtshoorn

Die lê van die Blossoms-noodpyplyn het verlede week afgeskop in die omgewing van die watereservoir naby die Oudtshoorn Gevangenis. Foto: Liesel le Roux

WERK aan die Blossoms-noodpyplyn het verlede week in die omgewing van die waterreservoir naby die Oudtshoorn Gevangenis afgeskop. Die eerste pype is Vrydagoggend 5 Maart 2021 gelê.

Die noodpyplyn-projek is in 2018 geloods om die Groter Oudtshoorn te help met voldoende water vir droogtetye.

’n Siviele ingenieursfirma is by die installering van die noodpyplyn tussen die Blossoms-boorgate (23 km van Oudts-hoorn in die rigting van George) tot by die reservoir betrokke.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder: water en riool, is ’n totaal van R50 miljoen reeds vir die noodpyplyn-projek van die nasionale Departement Water en Sanitasie (DWS) ontvang waarvan R35 miljoen bestee is aan hoofsaaklik die finalisering van die ontwerp van die pyplyn en die aankoop van die materiaal daarvoor. Die oorblywende R15 miljoen sal gebruik word om die eerste deel van die pyplyn vanaf die Oudtshoorn se kant te installeer.

Die materiaal wat gekoop en afgelewer is, sluit die pype in asook me­ganiese toerusting wat spesiaal vervaardig moes word. Die installering daarvan sal plaas­­vind sodra die pyp­lyn gelê is.

Die aanvanklike Blossoms-diepwaterprojek is in die vroeë 2000’s deur die Oudtshoorn Munisipali­teit geïnisieer, maar het tot stilstand gekom weens ‘n tekort aan fondse. In 2018 egter het ’n noodwaterprojek as gevolg van die droogte afgeskop, met die doelwit om be­staande eksplorasie-boorgate by Blossoms as waterbron te begin gebruik. Die beraamde koste van dié noodprojek is R100 miljoen.

Nog R50 miljoen is dus nodig om die projek te voltooi, hopelik met die hulp van die DWS of die Wes-Kaapse rege­ring.

Met die huidige beskikbare fondse van R15 miljoen sal sowat 6 km van die pyplyn gelê kan word – aanvanklik oor munisipale en regeringsgrond sowel as privaatgrond waar oor­eenkomste met grondeienaars bereik is.

Swart sê nadat ooreenkomste verlede jaar nie met party van die grondeienaars bereik kon word nie, het die munisipaliteit regsadvies ingewin en is ’n prokureur tans besig met ’n regsproses  om die nodige regte te bekom om die pyplyn te kan lê oor die grond waar nie ooreekomste bereik is nie.

Volgens Swart hoop die munisipaliteit steeds om ooreenkomste met die meeste grond­eienaars buite die hof te bereik. (Deur Liesel le Roux)