Aanlyn-dramakompetisie vir jong akteurs

LEERDERS wat daarvan droom om eendag die verhoog hul loopbaan te maak, kan nou inskryf vir Dramaweb SA se aanlyn-dramakompetisie wat vanjaar saam met die KKNK en die ATKV aangebied word.

Dié kompetisie het op 8 Maart afgeskop en loop op 31 Mei ten einde.
Dramaweb SA is in 2020 tydens Suid-Afrika se eerste nasionale inperking deur die drama-afrigter, Ira Blanckenberg geloods.

Sy was bekommerd nadat dramakompetisies en eisteddfods vir skoolleerders as gevolg van die pandemie gekanselleer is.

Dié kompetisie wil kranige jong akteurs die geleentheid te bied om hul verhoogstaal te wys.

“Ons wil vanjaar nog meer leerders as verlede jaar betrek, met nuwe kategorieë wat elke aspek van akteur-wees sal bevorder.

“Die reaksie verlede jaar was oorweldigend positief, en deelnemers se reaksie op die professionele en ook gedetailleerde terugvoer van professionele afrigters en ander kenners in die bedryf was inspirerend,” sê Blancken­berg.

Deelneem is maklik, en die koste minimaal – alles gebeur aanlyn.

“Leer­ders kan in die gemak van hul eie huis deelneem, met kundige beoordelaars wat regstaan met raad,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.

Inskrywings kos R150 per item.

Deelnemers kan met gedigte, mo­noloë, prosa en selfs mimiek deelneem.
Laai net ’n video-opname van jou inskrywing op teen 31 Mei.
Blanckenberg en haar man, die akteur Waldemar Schultz, is vanjaar se beoordelaars, en prysgeld vir elke kategorie is R1 000 per wenner.

Leerders kan in Afrikaans of Engels deelneem. Die finale ronde vir Afrikaanse deelnemers op 3 Julie en vir Engelse deelnemers op 4 Julie sal virtueel uitgesaai word.

• Besoek dramawebsa.co.za vir kategorieë en inligting, of bel Daventia Kennedy by 044 203 8600, of stuur ’n e-pos na info@dramawebsa.co.za of direk na ira@dramawebsa.co.za.