VONKE het gister (Woensdag 10 Maart) behoorlik gespat tussen raadslede en die publiek in die Ladismith Stadsaal toe ’n raadsvergadering van die Kannaland Munisipaliteit handuit geruk het.
Die koalisie tussen Icosa en die ANC, wat saam in November 2020 die raad oorgeneem het, het Woensdag verkrummel.
Die Icosa-speaker, Werner Meshoa, is later die oggend na ’n mosie van wantroue in hom vervang met Aletta Theron (DA) as speaker, terwyl Hyrin Ruiters (Icosa) vervang is deur Joslyn Johnson (DA) as die Tuinroete-distriksverteenwoordiger in die Kannaland-raad.
Volgens die waarnemende munisipale bestuurder van Kannaland, Roland Butler, is dié vergadering van meet af gekenmerk deur meningsverskille tussen Meshoa en Theron.
Lede van die publiek wat die vergadering bygewoon het, het ook vroeg reeds rumoerig geraak en die byeenkoms probeer ontwrig.
Hy sê dat Meshoa het as speaker in geen stadium probeer om die oproerige publiek tot orde te roep nie.
Meshoa het voorts tydens die vergadering versoek dat Theron die vergadering moet verlaat.
Theron het egter daarop aangedring dat ’n mosie van wantroue teen Meshoa aangehoor moes word.
Dié mosie van haar is summier gesekondeer.
Volgens Butler is dit onduidelik op watter statutêre gronde Meshoa versoek het dat Theron die raad moes verlaat, en dat sy daarom verseg het om te gaan.
Hy sê daar sou eerder tegnies verwag kon word dat Meshoa homself van die vergadering moes verskoon, omdat hy onder bespreking was, maar dat dit nie gebeur het nie.
Meshoa het ook daarop aangedring dat Magdalene Barry, ANC-burgemeester wat lank weens mediese redes afwesig was maar wel gister die vergadering bygewoon het, die vergadering moes verlaat.
Meshoa het volgens Butler voor die vergadering skriftelik geweier dat die raad ’n virtuele vergadering kan hou, selfs ná versoeke van Barry en ook van ander raadslede.
“Barry was verplig om dié belangrike vergadering by te woon aangesien daar nakomings-items op die agenda was, onder meer die hersiene begroting en geïntegreerde ontwikkelingsplan.
“Meshoa het ook op onwettige wyse en sonder ’n punt van orde die vergadering probeer stopsit, en verder ook die bandopnames van die vergadering met die hulp van sy aanhangers ontkoppel; om so te verhoed dat die meerderheid raadslede hul verantwoordelikhede kan nakom.
“Raadslede het ’n grondwetlike en demokratiese reg om aangehoor te word tydens raadsvergaderings, en Meshoa het geen regte of magte om hulle te verhoed nie,” sê Butler.
Meshoa en ander Icosa-lede en -ondersteuners het die vergadering met dreigemente en beledigende aantygings teen Johnson en Butler verlaat.
Die vergadering is later in die munisipale hoofgebou deur die raadslede van die ANC en DA voortgesit, onder die toesig van munisipale wetstoepassers.
Hier het Theron se mosies van wantroue teen Meshoa en Ruiters gedien en is dit eenparig deur ’n meerderheid raadslede aanvaar.
“Volgens ons prosedures was die tweede deel van die vergadering eenhonderd persent wettig,” sê Butler.
Theron is tydens hierdie gedeelte van die vergadering as nuwe speaker aangewys, en Johnson as Tuinroete-distriksverteenwoordiger.
Meshoa het op navraag gesê die latere gedeelte van die vergadering in die munisipale hoofgebou was onwettig.
“Ek het as speaker die vergadering verdaag, maar hulle het besluit om voort te gaan daarmee, en so ook die onwettige aanstellings.
“Nadat die speaker ’n vergadering verdaag, is enige ander vergadering onwettig, omdat vergaderings slegs deur die speaker belê mag word.
“Geen raadslid mag dit doen nie,” sê Meshoa.
Volgens Meshoa is Icosa se volgende stap om die hof te nader en die besluite van gister om te keer.
• Meshoa is op 19 Januarie vanjaar in die Ladismith Streekhof skuldig bevind aan klagtes van bedrog en dwarsboming van die gereg.
Vonnisverrigtinge is na einde Maart uitgestel, onder meer vir ’n verslag van die Departement Korrektiewe Dienste.
Kannaland terug onder beheer van DA en ANC
Die DA- en ANC-raadslede wat Woensdag saamgewerk het om die voormalige speaker van die Kannaland Munisipaliteit, Werner Meshoa, van Icosa te onttroon en beheer oor die raad oor te neem, is van links Aletta Theron (DA), Magdalene Barry (ANC), Philippus Antonie (ANC) en Joslyn Johnson (DA). Foto: Stefan Skapie Goosen