VIR David Schoeman van die plaas Rietfontein in die distrik Oudtshoorn, wat by die OVK Groep se sybokhaarsomerveiling in Port Elizabeth op Dinsdag, 2 Maart, onder meer ’n wêreld-rekordprys per kilogram vir ’n baal van sy sybokhaar ontvang het, skryf die gehalte van sy sybokhaar gedeeltelik aan die droogte toe.
“Weens die droogte was daar minder kos vir die bokke wat tot gevolg gehad het dat die bokke se hare fyner as gewoonlik is. Die droogte is dus in dié geval nie net negatief nie,” het hy gesê.
Wat wel in gedagte gehou moet word, is dat as die sybokhaar fyner is, is die totale haaropbrengs per kilogram minder wat ’n uitwerking op die totale inkomste uit die sybokhaar het.
Schoeman, wie se plaas suidwes van Dysselsdorp langs Kammanassieweg geleë is, het die wêreldrekordprys van R450 per kilogram vir ’n baal grootsybokhaar ontvang.
Voorts het hy die beste prys vir ’n baal van sy kleinbokkiehaar ontvang, naamlik R774,10 wat algeheel die hoogste prys per kilogram sy-bokhaar by die veiling was. Benewens dit het nog drie van sy bale kleinbokkiehaar topvyfpryse behaal.
Schoeman het met twee bale jongbokhaar ook die vorige rekordpryse verbeter met pryse van onderskeidelik R652,10 en R652,00 per kg. Die vorige rekordprys was R626 per kg.
’n Beskeie Schoeman vertel hy het sewe jaar gelede met Angorabokke begin boer en ’n stewige kudde opgebou.
“Ek het aan die begin ou teëlbokke wat vir slagdoeleindes verkoop is, teen ’n goeie prys gekoop en met hulle begin teël. Ek het ook van tyd tot tyd teëlramme gekoop. As die ooie gelam het, het ek net die mooistes gehou en die res verkoop. Verder sorg ek goed vir my bokke.”
Met die droogte was daar minder kos vir die bokke beskikbaar en moes hy hulle noodgedwonge voer. Dit het bygedra tot die fyner haar wat die beste pryse behaal het.”
Hy sê die vraag na kleinbokkiehaar is tans baie groot. Die gemiddelde prys het by die afgelope veiling met 12,5 persent gestyg.
Hy skryf sy sukses met sy sybokhaarboerdery daaraan toe dat hy “opgelet” het as mense wat die bedryf ken, gepraat het. “Ek het baie geleer by wyle oom Jan Sarels van Prins Albert wat die bokhaar geklas en help sorteer het, en oom Cassie Carstens van die Willowmore-omgewing wat hom gehelp het om die bokkies te klas en die bestes uit te hou.” Schoeman se bokke word deur skeerspanne van OVK geskeer.
Schoeman, wat aan Langenhoven Gimnasium gematrikuleer het, vertel hy boer al vandat hy sy verstand gekry het. Hy glo daarin om soveel moontlik op sy plaas te wees. “As jy weggaan, moet jy so gou moontlik terug wees!” sê hy met ’n glimlag.
Benewens sybokke, boer Schoeman onder meer ook met volstruise, ’n paar beeste en skape, aartappels, patats en saad.
Hy gee ook erkenning aan sy plaaswerkers vir hul bydraes. “Een van ons bale kleinbokhaar wat ’n topvyfprys behaal het, is deur een van hulle, Petrus Oosthuizen, uitgesorteer en gebaal.”
• Van Schoeman se sybokhaar haal gereeld toppryse by sybokhaarveilings. (Deur Schalk le Roux)
Wêreldrekordprys vir David se sybokhaar
David Schoeman by een van sy Angorabokke. Foto: Schalk le Roux