IN ’n poging om politieke stabiliteit en diens- lewering in Kannaland ’n hupstoot te gee het ’n spesiale raadsvergadering verlede Vrydag (6 Mei) op Ladismith plaasgevind. Dié vergadering het gevolg nadat vier van Kannaland se sewe raadslede die Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell, genader het om ’n raadsvergadering vir Vrydag te belê nadat die speaker, Rodge Albertus (Kannaland Independent Party – KIP) dit eers vir die volgende week wou belê.
Volgens die vier raadslede – Aletta Steenkamp (DA) en Icosa se Jeffrey Donson, Werner Meshoa en Hyrin Ruiters – het die begrotingsproses in die raad nog nie begin nie wat tot ’n agterstand in dienslewering kan lei.
Die vergadering is gelei deur die munisipale bestuurder van Swellendam, Anton Groenewald, wat deur Bredell afgevaardig is om as voorsitter op te tree.
Tydens die vergadering is twee ANC-raadslede, Anthony Ewerts en Bradley Benades, ingehuldig. Hulle is einde Februarie deur die ANC in die plek van Nicky Valentyn (voormalige burgemeester) en Leoni Stuurman (voormalige speaker) as ANC-raadslede aangewys. Die ANC het Valentyn en Stuurman die deur gewys omdat hulle teen ’n ANC-besluit met die DA in koalisie gegaan het.
Vier agendapunte wat die vier raadslede versoek het bespreek moet word, is by die vergadering aangeraak, naamlik ’n mosie van wantroue in speaker Albertus, die verkiesing van ’n nuwe speaker, ’n versoek dat die waarnemende munisipale bestuurder, Ian Avontuur, verwyder moet word asook ’n versoek vir provinsiale steun.
Die mosie van wantroue in Albertus is net deur die drie Icosa-raadslede ondersteun, met die vier ander raadslede van die DA, ANC en KIP wat dit teengestaan het en Albertus wat weer tot speaker verkies is.
Ten opsigte van die pos van Avontuur, het Groenewald aanbeveel dat die raad die pos van munisipale bestuurder permanent moet vul, terwyl pro- vinsiale steun vir die finansiële hoof en menslike hulpbronne-afdeling onder meer bespreek is.
Die verkiesing van ’n burgemeester en onder-burgemeester wat ook onder die aanvanklike agendapunte was, het nie plaasgevind nie en sal klaarblyklik oorstaan vir ’n volgende vergadering. (Deur Deon Meyer)
Kannaland-raad vergader na minister ingryp
