Borgtog vir Patrick Rondganger geweier

Werkskollegas van wyle Eric Xaxaka juig buite die hof nadat borgtog aan Patrick Rondganger geweier is. Foto: Garnett Wicomb

BORGTOG is Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof ge­wei­er aan Patrick Rondganger (35), die man wat aan­gekla word dat hy die pa van sy vriendin vermoor en in ’n vlak graf in ’n bui­tekamer op sy erf begrawe het.

Rondganger wat aanvanklik net van moord aangekla was, staan nou ook tereg op klagtes van roof met verswarende omstandighede en dwarsboming van die gereg.

Die lyk van Eric Xakaxa (59) van Bongolethu is op 8 April in ’n graf onder twee yskaste ge­vind nadat hy op 6 April as vermis by die polisie aangemeld is.

Ao Martin le Roux wat namens die ondersoekbeampte, ao Wilfred Appollis, getuig het, het die hof meegedeel dat daar meer as 25 steekwonde aan die liggaam van die oorledene was. Hy het as gevolg van die messteke in sy nek en bors gesterf.

Die borgaansoek is Dinsdag voortgesit na die staat se versoek dat dit ’n Bylae 6- en nie ’n Bylae 5 borgaansoek is soos aanvanklik aanvaar is nie, nadat klagtes van roof bygevoeg is.

Le Roux het getuig dat Rond­ganger die selfoon van die oor­ledene vir R280 aan ’n vrou, She­relize Goliath, by ’n winkel naby die Unieplein-taxistaanplek verkoop het en dat sy broer dit uitgeken het. Hy het op ’n vraag van Rondganger se regsverteenwoordiger, Bradley Michaels, aangedui dat hy nie kan sê wanneer die oorledene van sy sel­foon beroof is nie.

Michaels het betoog dat geen bewyse voor die hof is dat dit ’n Bylae 6-borgaansoek is nie en dat Rondganger geregtig is op borgtog. Volgens hom is Rond­ganger ’n eerste oortreder en nie ’n vlugrisiko nie, en het die staat nie ’n prima-facie-saak ten opsigte van die roofklagte nie.

Die staatsaanklaer, Ilana Goosen, het egter volgehou dat Rondganger in belang van ge­regtigheid nie borgtog behoort te kry nie en dat hy nie daarin geslaag het om buitengewone omstandighede vir die toestaan van borgtog te bewys nie.

Landdros Ntombizandile Maseti het Goosen gelyk gegee en gesê dat Rondganger tereg staan op baie ernstige klagtes.

Sy het bevind dat sy twee kinders in die sorg van hul twee ma’s is en dat die feit dat hy in aanhouding is nie sal lei tot die beëindiging van die staatstoelae wat hulle ontvang nie. Die feit dat hy tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis kan word indien hy skul­dig bevind word, kan hom ook aanmoedig om weg te bly van die hof.

Die hof het ook ’n petisie met handtekeninge van meer as 2 000 inwoners in ag geneem asook dat sy veiligheid dalk in gedrang kan wees.

Die saak is vir verdere ondersoek tot 17 Junie uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)

Be the first to comment on "Borgtog vir Patrick Rondganger geweier"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*