Kannaland gons toe Valke op munisipaliteit toesak

GERUGTE dat Jeffey Donson, burgemeester van Kannaland, deur die Valke gesoek word en uit die dorp gevlug het, het verlede Donderdagoggend soos ’n veldbrand deur Ladismith versprei.

Hierdie gerugte was egter vals en Die Hoorn het Donson die oggend in ’n heel gemoedelike stemming voor die Ladismith Polisiekantoor aangetref.

Wat egter wel vir hoogdrama op die dorp gesorg het, was die inhegtenisneming van vier senior mu-ni­sipale amptenare van die Kannaland Munisipaliteit deur die Valke se ondersoekspan vir Ernstige Kom­­mersiële Misdaad op klagtes van bedrog.

Volgens Donson was hy op pad na ’n Distriks­munisipaliteitsvergadering op George toe hy ver­neem het van gebeure op Ladismith. Hy het besluit om ander verteenwoordigers na die George-vergadering te stuur sodat hy op Ladismith kon wees.

Drie senior amptenare wat in hegtenis geneem is, was die direkteur korporatiewe dienste, Hendrick Barnard; die voormalige finansiële hoof, Nigel Delo; en die menslike hulpbronbestuurder, McGrandile Makier.

Volgens Zinzi Hani, woordvoerder vir die Valke, het die munisipale bestuurder, Morne Hoogbaard, homself later aan die Valke oorgegee.

Die vier mans het later die dag in die Ladismith Landdroshof verskyn en is op borgtog van R15 000 elk vrygelaat.

Indien hulle oor paspoorte beskik, moet dit ingegee word.

Die amptenare het volgens ’n verklaring van die Valke die munisipa­liteit na bewering uit meer as R338 miljoen bedrieg deur hulself te verryk met onwettige aanstellings in senior poste; waarnemende toelaes; en ’n maatskappy wat aan een van hulle behoort het, bevoordeel is terwyl die eienaar vir die munisipaliteit gewerk het.

Die saak is na 26 Januarie 2022 in die Oudts­hoorn Streekhof uitgestel.

Landdros Dmitri Mitchell het met die aanhoor van die toekenning van salarisse in ligte luim opgemerk dat hy dalk sy beroep moet verander.

Adv Razia Valley-Omar het vir die staat verskyn. (Deur Deon Meyer en Liesel le Roux)

1 Comment on "Kannaland gons toe Valke op munisipaliteit toesak"

  1. Nee man hoe moet julle vertrou ons praat elke jaar oordie goed en hulle het geweet dit is verkeurd. Hoekom doen julle dit aan ons arm gemeenskap

Comments are closed.