Bekende Barrydalers boks vir ’n doel!

Kyle Berry van Mez Karoo Kitchen is lief vir kosmaak, kuns en natuurlik om ’n bietjie die appels in die kryt te swaai! As die verdedigende kampioen van Barrydale Fight Night sien hy daarna daarna om ’n paar groot houe op te dis wanneer hy die plaaslike bouer Morgan “The Magnificent” Adonis op 11 Desember in die bokskryt ontmoet! Foto: Mickey Mentz

NOG lank voor Francois van Coke en Derick Hougaard die idee gekry het om mekaar tydens ’n Rugby vs Rock-geveg ’n paar soentjies in die kryt te gee, het die wie-is-wie’s van Barrydale mekaar al vodde in ’n plaaslike bokskryt geslaan!

Die tradisie leef sedertdien voort, en vanjaar is geen uitsondering nie.

Op 11 Desember is die Barrydale Fight Night terug met opwindende gevegte tussen bekende Barrydalers wat mekaar by die plaaslike Rolbal­klub sal aanvat.

Sitplekke by hierdie gewilde en erg vermaaklike byeenkoms verkoop soos soetkoek en daar is bevestig dat slegs ’n handjievol kaartjies nog by The Donkey Shed beskikbaar is.

Barrydalers onthou dat verlede jaar se hoof­trekpleister ’n asemrowende stryd tussen restauranteur Kyle Berry en kunspromotor Shane Petzer was.

Petzer, beroemd vir die geesdrif waarmee hy al teen talle onregte in die lewe geveg het, het koning gekraai. Dié legende is egter onlangs oorlede en Berry sal dus die titel verdedig.

Berry se teenstander is Morgan “The Magni­ficent” Adonis, ’n man wat geen bekendstelling in Barrydale benodig nie. As bouer dra Adonis die reuse verantwoordelikheid vir die restourasie van die befaamde Karoo Art Hotel op sy skouers. Hy het dus meer krag in sy voorarms as die gemiddelde Eskom-kragstasie!

Adonis sê sy inspirasie is die rofstoeispesialis, Ric Flair, en hy reken hy is gereed om Berry pap te slaan.
Ander gevegte sluit die terugkeer van die Swellendam Munisipaliteit se Colin “Turbo” Fortuin in, wat teen Geno “The Grizzly” Klaasen van Barrydale SAPS gaan baklei.

Een geleentheid waarna almal egter bewend uitsien, is om vir Controy Clint Williams, wêreldbekroonde gemengde martial arts-kundige en skopbokskampioen, in aksie te sien. Die man wat braaf genoeg is om hom aan te pak, is Prendal @PRICKO Krauwkamp, oorspronklik van Montagu.

Williams, wat by die Barrydale Panic Room gratis skopboks- en selfverdedigingsklasse vir minder bevoorregte seuns aanbied, is die organi­seerdeer van die Barrydale Fight Night.

Die hoofdoel van vanjaar se Fight Night is om fondse in te sa­mel sodat Williams ’n behoorlike dojo vir sy jong vegters kan oprig.

Individue of instansies wat ’n bydrae wil lewer, kan vir Williams by sel 073 160 1338 skakel. (Deur Mickey Mentz van News62)