Buurtgroep spoor twee blitsig op met hulp van WhatsApps

Silhouette of a Man in a Trench Coat and Hat

SO agter die skerms het ’n WhatsApp-noodgroep in een van Oudtshoorn se woongebiede die week getoon hoe nuttig en belangrik so ’n groep is toe inwoners saam gehelp het dat twee verdagtes binne 30 minute vasgetrek en ’n gesteelde waterpomp aan sy eienaar terugbesorg word.

Die eerste WhatsApp hieroor na die noodgroep (waarvan die naam en ligging weerhou word) is Maandagaand 20:07 gestuur toe iemand hul hond hoor blaf het en opgemerk het hoe ’n man met ’n hond by hom ’n wit sak onder ’n bos wegsteek.

Inwoners het dadelik begin reageer en ’n kriptiese vervolgverhaal van WhatsApps het gevolg soos inwoners ingespring en begin help het.

Iemand het gehoor dat die man ’n vrou by wie hy verbygestap het, gevra het of sy gesien het waar hy die sak neergesit het. Die vrou het die sak gaan optel.

Om 20:31 het ’n inwoner van die gebied en ’n sekuriteitsmaatskappy laat weet die sak met ’n waterpomp in is gevind. ’n Foto van die waterpomp is na die groep gestuur.

Inwoners is terselfdertyd gevra om te help soek na die twee mense met ’n aanduiding van die omgewing waar hulle moet soek.

Om 20:37 is laat weet die man en vrou is op die hoek van Baron van Reede- en Noordstraat opgespoor, en die polisie is ontbied.

Die uiteinde: Die eienaar van die waterpomp is opgespoor en ’n saak van diefstal by die polisie ingedien. Welgedaan aan dié Oudtshoorniete! (Deur Liesel le Roux)