Kanna-nominasies: Oudtshoorniete skitter weer!

Bo: Die produksie Droomkraan Kronieke is vir 'n Kanna-toekenning genomineer en is met groot geesdrif deur gehore ontvang. Die produksie, vol Oudtshoorniete, het selfs ’n staande toejuiging ontvang. Onder: Liza Grobler, Oudtshoorniet en vanjaar se feeskunstenaar by die KKNK, is ook vir ’n Kanna-toekenning genomineer. Foto’s: Hans van der Veen

DIE span van Karoo Kaarte, ’n projek wat verlede jaar op Oudtshoorn afgeskop het, het die prestasie behaal om vir ’n tweede opeenvolgende jaar talle Kanna-nominasies te ontvang!

Die nominasies vir vanjaar se Kanna-toekennings wat erkenning gee aan uitsonderlike bydraes tydens die KKNK, is die naweek bekendgemaak.

Karoo Kaarte se toneelproduksie vanjaar, Droomkraan Kronieke, is vir vyf Kannas genomineer, naamlik in die afdelings vir beste toneelaanbieding, beste literêre bydrae (die oorspronklike geskrewe teks), beste regisseur (Neil Coppen, Craig Leo en Tiffany Saterdaght), beste ensemble, asook beste ontwerp en tegniese bydrae.

Die Karoo Kaarte-span het verlede jaar sewe Kanna-nominasies ontvang en twee Kanna-wenners opgelewer – Mirinda Ntantiso is aangewys as die beste opkomende kunstenaar by 2022 se fees terwyl Karoo Kaarte die Herrie-prys vir grensverskuiwende werk ontvang het.

Die Karoo Kaarte-projek, onder die leiding van Neil Coppen en Vaughn Sadie, wil deur die kunste ’n verskil op Oudtshoorn maak en fokus ook op vaardigheidsontwikkeling en langtermynwerk-skepping.

Droomkraan Kronieke se teks is die resultaat van ’n ambisieuse navorsingstaak waartydens die geselskap meer as 100 onderhoude met inwoners van die Oudtshoorn-omgewing gevoer het. Dié mondelinge oorvertellings is tot toneelteks ver-werk en vermeng met elemente van dans, sang, klank en kuns.

Nog ’n Oudtshoorniet in die uitgelese geselskap van Kanna-genomineerdes is vanjaar se feeskuns-tenaar, Liza Grobler. Sy is genomineer in die afdeling vir beste aanbieding – visuele kunste vir haar uitstalling Inkommers, laatkommers & laatlammers, asook vir haar bydrae tot die massiewe Droom-installasie wat op die oop stuk grond oorkant Tuishuis opgerig is.

En dan is daar die “deeltydse” Oudtshoorniet Coenie de Villiers wat twee Kanna-benoemings gekry het vir sy produksie Woordmusiek se teks, regie en musiek. De Villiers, wat ’n huis op Oudts-hoorn besit waar hy deeltyds woon, is genomineer in die afdeling vir beste musiekaanbieding asook die afdeling beste ensemble.

Ander uitskieters onder die genomineerdes is die produksies Mirre en aalwyn, Nicola Hanekom se plekspesifieke drama wat vir sewe Kanna-toekennings benoem is, Mirakel en Ver in die wêreld Kittie wat soos Droomkraan Kronieke vyf benoemings gekry het en Die fel omstrede kroon van Edward II & Gaveston (drie benoemings).

Die Kannas word op 5 Mei by Leopard’s Leap in Franschhoek oorhandig.

En hier is die datums vir 2024 se KKNK!

Die 28ste KKNK, geborg deur Absa, vind van 23 tot 31 Maart 2024 in die Klein Karoo plaas. (Deur Liesel le Roux)