DIE meer as 100 leerders van Grootkraal UCC Primêr buite Oudtshoorn, op pad na die Kango Grotte, is Vrydag (21 April) verras met skoolskoene en kouse – net betyds vir die winter!
Volgens Annalie Arends, die waarnemende prinsipaal, is die kinders van die Grootkraal- tot die Bergoord-omgewing afkomstig en is meeste ouers seisoenale plaaswerkers of afhanklik van maat-skaplike toelae.
“Hierdie gebaar beteken dat hierdie kinders hier wegstap met blye hartjies, en ook die personeel van die skool. Ons is so dankbaar vir die gebaar!” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat die plaaseienaar waar die skool staan, Jean Botha, ’n belangrike rol in die skenking gespeel het.
Beide Arends en Botha het gesê dat daar meer mense op enige manier kan betrokke raak by die skool, selfs op geestelike manier.
Botha het op sy beurt gesê dat dit lekker is om die kinders so gelukkig te sien. “Die landelike skole kry baie swaar, so ek wil graag net bewusmaking kweek onder mense dat ons moet betrokke raak in ons gemeenskappe. Daar is soveel nood!”
Francois Marais, stuurman van die Oudtshoorn Vryburgers wat ook betrokke is by die projek, het gesê dié nie-winsgewende organisasie raak graag by hierdie tipe inisiatiewe in die gemeenskap betrokke. Dit is juis hierdie organisasie wat gesorg het vir die sokkies wat met die skoene gepaar is.
“Ons fokus juis op minderbevoorregte gesinne in die dorp, byvoorbeeld met ons Lighuis-projek in Bridgton, by die Plate. Ons het mense daar wat na kinders omsien wat daar geïdentifiseer word wat juis uit moeilike omstandighede kom – hier-die kinders kan nie eintlik na skool huistoe gaan nie en ons skep vir hulle ’n veilige omgewing,” het hy vertel. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Skoolskoene verheug kinders by Grootkraal UCC Primêr
Die leerders van Grootkraal UCC Primêr buite Oudtshoorn, op pad na die Kango Grotte, is Vrydag, 21 April verras met
skoolskoene en kouse - net betyds vir die winter. Hierdie plaasskool onderrig kinders van onder andere plaaswerkers in die
omgewing.
Hier hou die kinders hul nuwe skoene vas met rolspelers wat die projek moontlik gemaak het - onder meer die Vryburgers van Oudtshoorn en die grondeienaar. Foto: Stefan Skapie Goosen