OUERS hoef nie vrese oor hul kinders te koester of hulle jammer te kry oor die wêreld waarin hulle woon nie, het dr Wessel Vermeulen, ’n algemene praktisyn van Oudtshoorn, verlede week gesê toe hy as gasspreker by die Hoërskool Oudtshoorn se prysuitdeling vir senior leerders oor die “nuwe normaal”en die uitdagings van die pandemie en tyd waarin ons leef gepraat het.
“Ons kinders se skepping was geen toevalligheid of ongeluk nie. Hulle is ontwerp om hier op hierdie plek en tyd te wees. Moenie hulle leer om bang en mismoedig te wees oor die toestand van die wêreld nie. Leer hulle eerder om hoopvol te wees dat hulle ’n positiewe invloed op hul wêreld en die toekoms kan hê.
“Leer hulle om in geloof te wandel, bemagtig en motiveer hulle om te weet dat hulle hul eie toekoms kan bepaal. Hulle sal oorleef en hul eie uitdagings die hoof bied … soos jy met joune gedoen het. Hulle is eintlik geëerd om deel te wees van ’n ge-nerasie wat die grootste uitdaging van alle tye in die gesig staar – en dus deel kan wees van diegene wat geskiedenis maak.”
Vir die leerders was sy boodskap: “Onthou, julle is gebore vir ’n tyd soos hierdie en jy kan dit hanteer!”
Vermeulen het gesê wanneer hy aan die “nuwe normaal” dink, hy besef dat die wêreld die afgelope twee dekades so drasties van normaliteit afgewyk het, dat hy wonder of ons tans nie eintlik na normaal teruggeruk word nie.
“Ons sal moet terugkeer na sekere waardes, beginsels, werketiek en karaktereienskappe wat die afgelope 20 jaar in die dolle gejaag na rykdom, plesier, mag en gierigheid verlore gegaan het.
“Alles wat nuut en groter is, is nie noodwendig beter nie. Die wêreld het net eenvoudig mal geraak en daar was soveel must have’s, must do’s en must be’s dat ons kinders nie meer kon onderskei waarnatoe hulle moet beweeg nie.
“Toe kom Covid-19 en die wêreld ervaar paniek, vrees en onsekerheid. Die aarde kom tot stilstand en ons begin dink, en ons begin mekaar weer raaksien en waardeer en help en bid.
“Ons kom ook nou tot die besef dat soos in elke uitdaging in ons lewens hier nou ook die geleentheid tot ver-andering, vernuwing en verbetering voor ons lê.
“Dit gaan van elke mens afhang hoe hy of sy dit hanteer. Onthou, the world is a village – saam is ons almal beter as alleen. Onthou ubuntu, Keer terug na dit wat jou ’n goeie mens vir andere maak – respek, erkentlikheid, vriendelikheid, dankbaarheid. Bepaal en aanvaar verantwoordelikheid vir jou eie toekoms. Wees kreatief en realisties in jou verwagting, skep drome en helder horisonne.
“Almal is in dieselfde storm, net op verskillende bootjes. Julle skryf nou die geskiedenis en dit is ’n voorreg. Dit is waarvoor julle gebore is. Dit is julle tyd. Dit is opwindende tye en julle kan ’n groot impak maak op julle dorp, land en die wêreld.” (Deur Liesel le Roux)
Jongmense gebore om dié tyd se uitdagings te hanteer én so ook geskiedenis te maak
Dr Wessel Vermeulen aan die woord.
Foto: Schalk le Roux
Dis is tog so waar Amen god is groot en almagtig ek is bly dat daar nog iemand is wat ons kinders motiveer om te dink aan hule toekoms en nie aan covid nie van god is met ons almal dankie liewe Vader ek loof u.
Wyse woorde.
Wonderlike ware woorde dr Vermeulen. Goue boodskap vir veral die jeug en ons almal.