‘Oudtshoorn sal nog hoop gee’

Die Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, aan die woord by ’n VLV-byeenkoms wat deur meer as 30 vroue bygewoon is. Foto: Liesel le Roux

HY glo Oudtshoorn gaan nog hoop gee vir sy inwoners asook vir die inwoners van ander dor­pe, het Chris Macpherson, bur­ge­meester van die Groter Oudts­hoorn gesê toe hy Dinsdag 9 Maart die gasspreker was by ’n byeenkoms van die Vroue Landbouvereniging (VLV) op die dorp.

“Om dit te laat gebeur moet die inwoners egter saamstaan en saamwerk en is dit belangrik dat ons nie van mekaar as ‘ons’ en ‘hulle’ praat nie. Daar is nie ’n ‘ons’ en ‘hulle’ op die dorp nie; ons moet almal werk tot voor­deel van ons dorp en eienaarskap van die dorp aanvaar.”

Macpherson het gesê die raad het indringend aandag geskenk oor wat Oudtshoorn nodig het om te ontwikkel en vooruit te gaan. “Daar was ’n tyd toe Oudts­hoorn aangewys is as die beste munisipaliteit en ons moet werk dat dit weer kan gebeur.”

• Macpherson het ook gesê hy werk hard om ’n kultuur van harde werk en spaarsamigheid by die munisipaliteit te vestig, maar dat hy hieroor dikwels ongewild is en dat dit nie altyd maklik gaan nie.

“Daar was ’n kultuur wat oor ’n lang tyd gevestig is dat jy by die munisipaliteit kantoor toe gaan; nie dat jy gaan werk nie, en dit sal moet verander.”

Hy het gesê daar word oral uitgawes gesny, onder meer om­dat die nasionale regering sy bydraes aan munisipaliteite as gevolg van die uitwerking van Covid-19 kwaai gesny het en jaarliks gaan verminder.

“As jy byvoorbeeld staak, kan jy nie betaal word nie. Daar is ook nie geld vir tee en koffie nie. As ek vir my besoekers koffie wil gee, dan bring ek dit van die huis af.”

Hy het verwys na talle projekte wat in die pyplyn is en wat daarop gemik is om inwoners ekonomies op te hef en werk te skep. Dit sluit ’n nuwe win­kelsentrum in op die hoek van Rademeyerstraat en Langenhovenweg asook ’n kleiner sentrum in Bridgton; vinniger en betroubaarder internetverbinding deur die lê van vesel; en ’n sonplaas buite Dysselsdorp wat uiteindelik, indien nasionale wetgewing aangepas word, vir die hele Oudtshoorn sal kan krag verskaf.

Daar word volgens hom ook reeds grondwerk gedoen vir maat­skaplike opheffing deur investering deur buitelandse maat­skappye; asook die sentrering van nuwe behuising vir inwoners in ’n ontwikkelingsone waar kerke, skole en ’n polisiekantoor kan kom. (Deur Liesel le Roux)