Geen verlof om appèl vir Brits nie

DIE Kaapse Hooggeregshof het op 23 Februarie 2021 die aansoek om verlof tot appèl van die voormalige bestuurder van Kango Wyne op Oudts­hoorn, Johan Brits, van die hand gewys. Hulle het die saak terugverwys na die streekhof op Oudts­hoorn vir die voortsetting van vonnisverrigtinge.

’n Datum vir sy volgende verskyning in die streekhof moet nog bepaal word.

Regters Elizabeth Baartman en Derek Wille het laat verlede jaar Brits se hersieningsaansoek van die hand gewys, waarna Brits aansoek gedoen het om teen die hof se beslissing te mag appelleer.

Hy is vyf jaar gelede deur streeklanddros Neels Nortje skuldig bevind op 23 klagtes van bedrog en twee van oortreding van die Wet op Drankprodukte. Adv Louis van Niekerk, senior staatsaanklaer in die kantoor van die Direkteur van Open­bare Vervolging, het Brits se aansoek teen­gestaan. (Deur Garnett Wicomb)