Twee jong DJ’s van Ladismith wil naam maak

Stephandré Januarie (links) en Anthay Chris­toffels van Ladismith wil Oudtshoorniete se voete laat jeuk om te dans. Foto: Stefan Skapie Goosen

TWEE jong Ladismitters, Stephandré Januarie (16) en Anthay Christoffels (21) van Nissenville, se liefde om musiek te maak het vroeg in hul lewens begin. Binnekort gaan hulle hierdie liefde verder uitleef en ’n album vrystel met die hoop om die Klein Karoo-inwoners se voete te laat juk om te dans.

Dié twee platejoggies, of DJ’s soos hulle hulself voorstel, sing of rymklets nie, maar maak beats en mixes wat die jong klomp aan die beweeg kry. Hulle maak al sedert 2018 saam musiek en gaan op Dinsdag 30 Maart hul album op Oudtshoorn vrystel.

Volgens Stephandré gaan die vrystelling plaaslik op Radio CG uitgesaai word met ’n bekende in plaaslike musiekkringe, Nigel B, wat die program aanbied. Hulle beoog om binnekort op Oudtshoorn te kom optree, moontlik tydens Paasnaweek.

Buiten om mense te laat wikkel op die dansvloer, wil hulle ook graag saam met sangers of rymkletsers werk en die musiek vir ander se lirieke verskaf. “Ons maak nie net hip-hop beats nie, maar musiek in die styl van amapiano, jazz en qgom,” las Stephandré vinnig by.

Vir die leke onder ons is “amapiano” ’n styl van house-musiek wat in 2012 in Suid-Afrika ontstaan ​​het. Dit is volgens Wikipedia ’n mengsel van deep house-, jazz- en lounge-musiek wat gekenmerk word deur synths, airy pads en “wye en perkussiewe baslyne”.

Gqom is volgens Wikipedia ’n genre van elektroniese dansmusiek wat in die vroeë 2010’s in Durban, KwaZulu-Natal ontstaan ​​het. Dit is ’n samesmelting van Suid-Afrikaanse house-musiek, kwaito en techno.
Stephandré, ook bekend as DJ Wayks, is deur die musiekmaakgogga gebyt toe hy nog op laerskool was en dit by ’n nefie geleer het.

“My nefie het later begin rymklets, maar ek wil net musiek maak,” sê hy.
Anthay sê hy was van negejarige ouderdom versot op instrumente, en het allerhande blaasinstrumente gespeel.

“Een dag toe wou ’n ander ou my op een van sy tracks gebruik toe hy hoor hoe ek die altsaksofoon speel, en van daar af wou ek begin beats maak,” vertel hy.

Hul opkomende album gaan 15 snitte op hê en word My Culture EP genoem. Die twee verseker dat dit een is om nie mis te loop nie.

Dit sal nie op sosiale media beskikbaar wees nie, en belangstellendes kan Stephandré direk kontak vir verdere besonderhede op 079 805 8219, of volg DJ Wayks Music op Facebook. (Deur Stefan Skapie Goosen)