DIE weerlig-dood van die 16-jarige Adriaan Gelant van Stolsvlakte buite Oudtshoorn het verlede week skokgolwe deur die gemeenskappe van Stolsvlakte en Dysselsdorp gestuur.
Adriaan en sy jonger sussie, Ronel (11), het verlede Donderdag (3 November) hul ouma laataand
na haar huis anderkant ’n droë rivierloop vergesel met swaar weer en donderstorms wat gedreig het. ’n Weerwaarskuwing vir Oudtshoorn en omliggende areas is verlede week deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens vir die Woensdag en Donderdag uitgereik.
Volgens verskeie bronne is Adriaan op pad terug huis toe deur die weerlig raakgeslaan en op slag dood. Sy suster is ook deur weerlig getref, maar kon daarin slaag om huis toe te hardloop en hulp te ontbied.
Volgens Hannes Terblanche, ’n boer van die omgewing, was die ambulans gou op die toneel en
is Adriaan daar dood verklaar. Ronel is in die hospitaal opgeneem, maar dieselfde dag ontslaan.
Omstandighede rondom die dood van die seun word tans deur die Oudtshoorn Polisie ondersoek.
Sers Christiaan Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse Polisie het gesê ’n nadoodse ondersoek
om die oorsaak van dood vas te stel, is gedoen.
“Die uitslag sal met die naasbestaandes gedeel word. Intussen duur die ondersoek voort.”
Volgens Leon Campher, raadslid en gemeenskapsleier van Dysselsdorp, was die nuus vir hom
’n baie groot skok. “Van die gemeenskap se kant ondersteun ons die familie en doen wat ons kan.
“Ons gaan vir Ronel ná die begrafnis met ’n prys vereer. Ons beskou haar as ’n held omdat sy
kop gehou en hulp gaan soek het, ondanks haar eie beserings.
“Die familie is erg getraumatiseer en beradingshulp vir die familie sal baie waardeer word,” sê hy.
Medeleerders en onderwysers van St Konrad Primêr het Dinsdagmiddag ’n kranslegging op die
toneel waar Adriaan gesterf het, bygewoon. Die skoolhoof, Wilfred Reed, het by die kranslegging
genoem die aand van Adriaan se dood was daar vroeër die aand ’n prysuitdeling by die skool wat hy nie bygewoon het nie. Hy sou daar ’n diploma ontvang vir die derde beste vordering in sy groep.
Adriaan se begrafnis vind Sondag om 10:00 in die Volkskerk op Stolsvlakte plaas, oorkant sy
ouers se huis, en daarna by die Stolsvlakte Begraafplaas. (Deur Angelique Erasmus)
Jeugdige sterf toe weerlig hom tref
Adriaan Gelant (16) wat verlede week op
Stolsvlakte buite Oudtshoorn deur weerlig
doodgeslaan is. (Foto verskaf.)