Skote klap helder oordag in die Lane

Bo is die gedeelte van 11de Laan waar die skietery Sondag plaasgeving het en onder is die winkel waarin ’n ooggetuie tydens die angsvolle oomblikke geskuil het.

’N SKIETGEVEG wat Sondag (6 November) in 11de Laan in Bridgton uitgebreek het, het inwoners van die sogenaamde “Lane” op hol gehad en hulle vir hul lewens laat vlug het met die koeëls wat vlieg. Speurders van Oudtshoorn ondersoek na aanleiding van die skietery klagtes van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, sê daar is goeie vordering met die saak gemaak met drie verdagtes wat Maandag op aanklagte van poging tot moord in hegtenis geneem is. Spies het gesê hulle sou gister (Woensdag) in die hof verskyn.

Spies het gesê die ondersoek na die voorval dui daarop dat die Openbare Orde Polisiërings- en die Misdaadvoorkomingseenheid omstreeks 17:45 gereageer op ’n onderonsie tussen inwoners van 11de Laan. Met hul aankoms is vier slagoffers met steekwonde gevind en hospitaal toe vervoer.

“Verdere ondersoek het daartoe gelei dat die drie verdagtes op aanklag van poging tot moord in hegtenis geneem is. Bewerings rondom die skietvoorval maak deel uit van ’n deurlopende polisieondersoek,” het hy gesê.

Volgens ’n ooggetuie, wat nie geïdentifiseer wil word nie weens vrees vir vergelding deur die verantwoordelikes, het gesê hy was net ná 14:00 op pad na ’n huiswinkel in 11de Laan toe die skietery begin.

“Daar was ’n voertuig wat in 11de Laan ingedraai het. ’n Passasier het uitgeklim terwyl die voertuig nog stadig gery het. Toe het ek net skote hoor klap! Ek het in die winkel gebly uit vrees vir my lewe!

Wie ookal geskiet het, het net begin lostrek met sy vuurwapen. Ek kon nie sien na wie of wat hy skiet nie, maar ek kon drie skote hoor. Eers twee skote agtermekaar, toe nog een byna twee minute later.

Ek het nie eers geweet wat om te dink nie, ek wou net veilig bly,” het hy gesê.

Die man het aan Die Hoorn vertel toe dit stil raak, het hy onmiddelik huistoe gegaan. “Ek het nie gebly om te kyk wat aangaan nie. Ek kon nie sien of dit een man was wat geskiet het nie – dit kon moontlik meer gewees het.

“Dit het helder oordag gebeur. Daar was kinders en ander mense in die straat. Hoe kan jy net so skiet tussen mense?”

Volgens die ooggetuie was daar minstens drie polisievoertuie in die omgewing voordat die skietery begin het. “Daar was vroeër ’n woordewisseling in die straat. Dit is hoekom die Polisie ontbied is.

Maar hulle het weggery voor datdie skietery begin het,” het hy gesê. Die ooggetuie het gesê inwoners het wyd en syd bespiegel oor die oorsaak van die skietery, maar niemand is seker oor hoekom dit gebeur het.

“Ek het nie eens gekyk hoe hulle geskiet het nie. Ek wou net veilig by die huis kom by my vrou en kinders,” het hy gesê.

Die Polisie het volgens die ooggetuie eers byna ’n halfuur ná die skietvoorval by die toneel opgedaag, hierdie keer met mag en mening. Hy sê daar was minstens tien voertuie op die toneel, onder meer voertuie van openbare polisiëring en forensiese dienste. (Deur Stefan Skapie Goosen)