Inwoners reageer op parkie-aangeleentheid

Een van die parkies wat tans deur AfriForum onderhou en natgelei word. Foto verskaf.

Verskeie inwoners het gereageer op Die Hoorn se berig verlede week oor AfriForum se aanbod om speelparke te bestuur. Terwyl die meeste reaksies daarop dui dat die behoud van die parke belangrik is, is daar ook inwoners wat wil weet waarom daar toegelaat is dat die speelparke deur die jare verval het.

Die Hoorn het twee briewe wat onderskeidelik van Philip Goetz en die oud-raadslid en voormalige speaker van die raad, Japie Coetzee, ontvang is aan die munisipaliteit en die burgmeester gestuur vir reaksie. In beide briewe word die verval van die parkies voor die deur van die munisipaliteit gelê.

Goetz vra wat die munisipale parke-afdeling doen om die parke in stand te hou en Coetzee verwys na die goeie bestuur van die parke wat tydens sy termyn as raadslid gehandhaaf is.

Die Hoorn het verlede week met die oog op beriggewing, ’n aantal vrae aan die munisipaliteit gestuur na aanleiding van ’n verklaring wat AfriForum uitgestuur het oor gesprekke wat hulle met munisipale amptenare gevoer het rondom die voorneme om van die parke aan ontwikkelaars te verkoop.

Teen spertyd was daar nog nie ’n reaksie op die navrae ontvang nie. Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het tydens verlede Donderdagaand se besigheidskamergeleentheid, na die parkies verwys en gesê daar is nog geen besluit oor die verkoop daarvan geneem nie en toegegee dat daar ’n dringende behoefte aan behuising in Oudtshoorn is.

Donovan Kleynhans, voorsitter van AfriForum in Oudtshoorn, het gesê dit was met hulle vergadering met die munisipaliteit duidelik dat spesifieke parke reeds opgemeet is en oorweeg word vir verkoop, maar dat hulle hoop vir meer duidelikheid by ’n volgende vergadering met die munisipaliteit.

’n Eiendomsagent wat hierdie week met Die Hoorn gepraat het, het bevestig dat huureiendomme en veral woonstelle wat te huur is, tans uiters skaars is in die dorp en bykans onmiddelik weer gevul word wanneer huurders kennis gee. (HANNES VISSER)