

Na die aanbieding van die afgelope naweek se gholfdag en uithoustap het die kantoor van die uitvoerende burgemeester gister (Donderdag 25 Sept) met die Infanterieskool vergader om die finale opbrengs van die twee dae se geleenthede vas te stel.
Die gholfdag en uithoustap was ’n gesamenlike poging van die burgemeester se kantoor en die Infanterieskool om geld vir liefdadigheid in te samel.
Volgens die kantoor van die burgemeester het ongeveer 2 000 mense Saterdagoggend aan die staptog langs die Grobbelaarsrivier deelgeneem. Op die gholfbaan het 64 spelers aan Vrydag se gholfdag deelgeneem. Die wenners van die gholfdag was die span van die munisipalitiet en die Infanterieskool Johan Allers; kol Tiisestso Sekgobela, Jodi Muller en André Plaatjies.
Met verwysing na die twee geleenthede en ander wat op die dorp aangebied word, het die uitvoe- rende burgemeester sy opregte dank en waardering teenoor die media uitgespreek vir die bydrae wat hulle lewer ten opsigte van sport, sporttoerisme en ander gemeenskapsgeleenthede.
’n Gedeelte van ’n verklaring wat deur sy kantoor uitgereik is lui: “Volgens raadsheer Allers kan Oudtshoorn met trots terugkyk op die entoesiastiese en professionele mediadekking – vanaf gedrukte publikasies en radiostasies tot die aktiewe gebruik van sosiale media – wat wesenlik tot die sukses van hierdie geleenthede bygedra het.” (HANNES VISSER)