Talle vrae na vermiste vrou se kanaaldood

Bo: Janine Stander, wie se liggaam ʼn week na haar verdwyning gevind is. Foto verskaf. Onder: Lede van die polisie langs die kanaal in die omgewing waar kledingstukke van die oorledene gevind is. Foto’s: Hannes Visser Heelonder: Ryan Stander tydens sy onderhoud met Die Hoorn op Woensdag.

“Daar is nog so baie vrae, maar ons moet nou eers die skok van Janine se dood verwerk,” het Ryan Stander Woensdag aan Die Hoorn gesê.

Janine, sy 39-jarige vrou en ma van hulle drie kinders van 18, 15 en 9 het in die vroeë oggendure van Dinsdag 16 September verdwyn. Haar liggaam is ’n week later op Dinsdag 23 September in die waterkanaal naby Volmoed deur verbygangers ontdek.

Die polisie is besig met ’n ondersoek na haar dood en geen inligting oor moontlike verdagtes of omstandighede is al bekend gemaak nie.

Vir Ryan, ’n verkeersbeampte by die provinsiale verkeersdepartment, is daar op hierdie stadium slegs die wete dat sy vrou dood is en dat die polisie besig is met ’n geregtelike ondersoek.

Hy vertel dat Janine Maandag laatmiddag vir die kinders by hulle huis in Van der Rietstraat gesê het sy gaan ’n ent saam met ’n vriendin stap wat by haar gekuier het. Teen die tyd dat Ryan van die werk af gekom het, was sy nog nie terug nie en hy het gesien sy het haar selfoon by die huis gelaat.

“Toe ek Dinsdagoggend vroeg opstaan, was sy nog nie daar nie en ek het gedink sy het seker maar by die vriendin oorgeslaap. Ek moes vroeg gaan werk en het ons oudste seun gevra om die jong een reg te kry vir skool.”

Toe hy Dinsdagaand by die huis kom en Janine steeds nie terug was nie, het hy die vriendin gekontak. Sy het vertel dat hulle Maandagaand by die Wic‘it Sports Pub naby Checkers was, maar dat sy Janine daar gelaat het toe sy huis toe is. Ryan het soontoe gegaan en met mense gesels, maar kon niks wys word nie.

Terug by die huis het hy begin siek voel en deur die nag het dit so erg geword dat hy per ambulans hospitaal toe is waar hy tot Donderdagoggend vir observasie opgeneem is.

“Ek het Woensdag in die hospitaal gehoor Janine is steeds weg en het toe vir die familie gevra om dit by die polisie aan te meld. Toe ek Donderdagoggend ontslaan is, het ons die docket laat oopmaak dat sy vermis is. Videomateriaal wys dat sy Dinsdagoggend omtrent tweeuur by Wic‘it Sports Pub uit is. Die polisie het toe met die mense gepraat wat op die video saam met haar buite was, maar hulle het glo gesê hulle het haar daar in die parkering gelos.”

Wat Ryan en die polisie op daardie stadium nie geweet het nie, was dat mense wat naby die waterkanaal woon intussen ’n kledingstuk, skoene en een sokkie langs die kanaal, wat tans vol is, opgetel het in die area waar die kanaal ’n ent agter die skougronde verbyvloei. Die kledingstukke is later vir die polisie gegee.

“Die eerste wat ek daarvan gehoor het, was toe die polisie my kontak en foto’s van die skoene en van die top wat gevind was vir my stuur. Dit was Janine s’n, en toe het hulle Sondag duikers gestuur om in die kanaal te soek, maar hulle het niks gekry nie.”

Verskeie lede van die gemeenskap, vriende en familie en raadslid Leon Campher, het Maandag en Dinsdag die omgewing langs die kanaal waar die klere gevind is, gefynkam. Lede van die polisie was ook weer Maandagmiddag langs die kanaal in die omgewing waar Janine se klere gevind is.

“Terwyl ons Dinsdag gesoek het, het ons gehoor ’n liggaam is in die kanaal naby Volmoed gekry. Die polsie het my toe gekry waar ons gesoek het en vir my ’n oorring gewys wat hulle aan die liggaam gekry het. Ek het dit herken, maar hulle het gesê ek kan nie die liggaam sien nie.”

Hy vertel dat die speurder later Dinsdagmiddag vir hom ’n foto gestuur het van ’n tatoeëermerk wat op die voorarm van die liggaam was.

“Ek het dadelik die tattoo herken en toe geweet dis Janine wat hulle gekry het.”

Daar is tans onbevestigde inligting in omloop dat Janine in die oggendure na Godfather- kuierplek en later in die rigting van Wesbank saam met mense gestap het, dat sy glo deur ’n man op ’n fiets genader is en dat die polisie ook met persone wat moontlik meer inligting kan bied, gepraat het. Geen inligting is egter op hierdie stadium deur die polisie bevestig nie.

Ryan sê dat hy glad nie op sosiale media kyk nie, want die ondeurdagte opmerkings en aflei-dings wat talle mense maak dra net verder by tot die gesin se trauma en verlies.

Volgens hom kom die familielede volgende week bymekaar om voorlopige reëlings te tref aangesien daar eers gewag word vir die afhandeling van ’n nadoodse ondersoek. Hy en die drie kinders ontvang ook berading wat deur die provinsiale department verskaf word.

Hy het sy opregte waardering uitgespreek teeoor al die mense wat met die soektog gehelp het en wat hom en die kinders ondersteun en bemoedig. (HANNES VISSER)

Lede van die gemeenskap tydens Maandag se soektog na Janine.