Gesellige netwerkaand deur Die Hoorn aangebied

Tydens die netwerkaand is, van links: Abri Ferreira (voorsitter van die besigheidskamer), Jaco Erasmus (mede-eienaar van Die Hoorn), Johan Allers (uitvoerende burgemeester), Angelique Erasmus (be- stuurslid van die besigheidskamer en mede-eienaar van Die Hoorn) en Suné Rupping (bestuurslid van die besigheidskamer). Foto verskaf.

Die Hoorn het Donderdag, 18 September die tweede netwerkaand van die jaar geborg. Die vorige een wat deur die koerant geborg was, was in Junie by Baron’s Palace.

Donderdag se netwerkaand is by die Oudtshoorn Aeroklub aangebied met bykans 90 gaste. Tydens die geleentheid is twee nuwe lede, FAMSA Karoo en Pressed in Time, by die besigheidskamer verwelkom.

Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het enkele munisipale kwessies aangeraak en onder andere die goeie nuus gedeel dat opgraderingswerk van bykans R10 miljoen aan die De Jagersportgronde beoog word, dat die REC opgegradeer gaan word tot ’n internasionale krieketveld en dat nuwe pompe vir die NA Smit-swembad aangekoop sal word.

Tydens sy spreekbeurt het die voorsitter van die Oudtshoorn besigheidskamer, Abri Ferreira, die versekering gegee dat die besigheidskamer die munisipaliteit se prosesse van openbare deelname ten opsigte van nuwe ontwikkelings en behuising ondersteun en dit ook benadruk dat die munisipaliteit ’n deurslaggewende rol speel in die ekonomiese groei van die dorp, ongeag wie in beheer is.

Die volgende netwerkaand van die besigheidskamer vind op 25 Oktober plaas en word deur Just Property geborg. (HANNES VISSER)