
Dysselsdorp het Woensdagoggend weergalm van sirenes toe Suid-Afrika se adjunkpresident, Paul Mashatile, en die nasionale minister van kultuur en sport, Gayton McKenzie, saam met hulle gevolg en verskeie ander amptenare en politici op die dorp toegesak het.
Hulle besoek aan Dysselsdorp Sekondêre skool was die eerste deel van Woensdag se vieringe van Erfenisdag wat in Oudtshoorn plaasgevind het.
Mashatile neem tans waar as president. Alhoewel die hoofprogram van Woensdag se vieringe op die Bridgton sportgronde plaasgevind het, het die adjunk-president en minister McKenzie die dag by Dysselsdorp Sekondêr begin waar bome as deel van die regering se 1,4 miljoen bome vir Suid-Afrika geplant is en ’n veeldoelige sportbaan amptelik geopen is.
Die adjunkpresident het die eerste van vyf inheemse bome wat vir die skoolterrein voorsien is, geplant en daarna die gaste kortliks toegespreek en die sportbaan saam met minister McKenzie geopen. McKenzie het in sy toespraak gesê toe hy as minister aangestel is, het hy hom voorgeneem om sportgeriewe by skole in arm gebiede op te rig wat vergelyk kan word met die geriewe wat privaatskole het.
“Daar is geen rede waarom ons sportsterre net uit privaatskole moet kom nie. Hulle moet ook uit skole soos hierdie een kom, maar dan het die skole geriewe nodig soos hierdie een wat ons vandag oorhandig,” het hy gesê.
Die baan is ’n veeldoelige baan met ’n sintetiese oppervlak wat vir 22 jaar gewaarborg is. Die baan kan aangewend word vir netbal, basketbal, vlugbal, tennis en mini-sokker met vyf spelers per kant.
Die koste van een baan beloop ongeveer R2 miljoen en verskeie skole in die land het reeds van die bane ontvang.
Die bome wat aangeplant word, is deel van ’n projek van die departement van bosbou om 1,4 miljoen inheemse bome deur die land te plant.
Na afloop van die verrigtinge by die skool, moes die adjunkpresident en sy gevolg hulle na die Bridgton sportgronde haas waar die res van die dag se verrigtinge plaasgevind het en Mashatile sy Erfenis-boodskap oorgedra het.
Die tema vir vanjaar se Erfenismaand is “Re-imagine our Heritage Institutions for a New Era”, waar die klem geplaas word om ons erfenis as basis te gebruik vir die bou van ’n ekonomies-volhoubare toekoms.
Daar word veral klem gelê op hoe die gemeenskap ontwikkel aan die hand van sosio-ekonomiese en tegnologiese uitdagings. Daar word tydens Erfenismaand ook gefokus op die rol van museums as die kern van transformasie. (HANNES VISSER)

Oudtshoorn se onderburgemeester, Zoey Tyatya en uitvoerende burgemeester, Johan Allers, tydens die boomplantgeleentheid.