“Die land kan reggemaak word, maar nie met ’n towerstaf nie; met vernuwende denke en toewyding.”
Dit was die boodskap wat Dr Leon Schreiber, nasionale minister van binnelandse sake Dinsdagoggend tydens ’n ontbyt met sakelui van Oudtshoorn gegee het. Schreiber is tans in die streek om verskeie afdelings wat onder sy portefulje resorteer, te besoek.
Hy het met trots verwys na die groot verandering en verbetering in die departement van binnelandse sake die afgelope 14 maande. Die verbetering gaan hand aan hand met die aanwending van moderne tegnologie en die uitwissing van reuse-agterstande.
Volgens Schreiber was daar 306 000 uitstaande visum-aansoeke toe hy as minister oorgeneem het. Van daardie aansoeke was reeds 10 jaar oud. Skaars 14 maande later is daardie agterstand uit die weg geruim.
Hy het gesê sulke agterstande hoop op as ’n regering so gewoond raak om aan bewind te wees dat departemente en ministers gemaklik raak en eenvoudig nie hulle werk doen nie. Hy het egter benadruk dat dinge besig is om te verander omdat uitdagings van 2025 aangepak word met tegnologie van 2025 en nie met verouderde stelsels wat reeds jare en jare gebruik word nie.
“Dink net wat ’n geweldige verandering in die land sal plaasvind as elke departement die ommeswaai maak wat in binnelandse sake vermag is. Dit is nie onmoontlik nie, dit verg bloot toewyding en vernuwing,” het hy gesê.
Hy het onder andere daarna verwys dat daar ongeveer 18 miljoen Suid-Afikaners is wat nog die groen identiteitsboekies gebruik en die gevare en moontlikhede van identiteitsbedrog van die boekies beklemtoon.
Volgens Schreiber word daar hard gewerk om alles te digitaliseer.
“Net soos wat elkeen met ʼn selfoontoepassing sy banksake kan doen, moet mense ook hulle identiteit kan bevestig, aansoek doen vir paspoorte, visums, lisensies en identiteitsdokumente. Dink net aan die voordele daarvan as daar nie in lang rye gestaan moet word en maande gewag moet word vir dokumente nie.”
Daar is reeds met agt banke ooreenkomste aangegaan dat landsburgers in die nabye toekoms by banke ook kan aansoek doen vir dokumente soos paspoorte en identiteitsdokumente.
Dit beteken dat daar binne die volgende jaar bykans 1 000 banktakke landwyd sal wees waar mense aansoeke kan doen sonder om die kantore van binnelandse sake te besoek, het hy verduidelik.
Hy het ook uitgebrei oor die moontlikhede om onwettige immigrante te stuit en om die toerismebedryf by te staan deur prosesse meer vaartbelyn te maak.
Op politieke vlak het Schreiber gesê die feit dat die ANC verlede jaar vir die eerste keer sedert 1994 nie ’n volstrekte meerderheid kon kry nie, was die begin van ’n omkeerproses.
“Dit was nie net ’n verkiesingsdag waar die ANC sy meerderheid verloor het nie, dit was die begin van ʼn proses en die katalisator wat die ANC se agteruitgaan versnel het.”
Hy het na die plaaslike verkiesings van 2026 verwys en voorspel dat kiesers hulle kruisies heeltemal anders sal trek en dat daardie momentum volgehou moet word tot met die nasionale verkiesing van 2029.
Hy voorspel dat die ANC se steun met die 2029 nasionale verkiesing nog swakker sal wees en die DA moontlik die grootste steun sal kry.
Ten opsigte van die RNE (Regering van Nasio-nale Eenheid) sê Schreiber dit het ’n heel ander regering tot gevolg en dat ons tans in ʼn heel ander land leef as 15 maande gelede.
Hy het afgesluit deur te sê hy is oortuig dat die land op koers is om herstel te word, maar dat dit leiers verg wat toegewyd is, dat tegnologie aangewend moet word en dat daar geen towerstaf bestaan om dinge onmiddelik te verander nie. (HANNES VISSER)
Minister positief oor al die toekomstige veranderinge
Dr Leon Schreiber, nasionale minister van binnelandse sake, tydens Dinsdag se sake-ontbyt.
Foto: Hannes Visser