Teen spertyd Woensdag kon Die Hoorn nog nie die identiteit of tuisdorp bevestig van die 69-jarige vrou wie se liggaam Vrydagmiddag in die Swartberge gevind is nie.
Die kommunikasiebeampte van die polisie in die Suid-Kaap het in ʼn verklaring gesê die liggaam is gevind nadat die motor waarin die oorledene was van die pas afgery het. In die verklaring is slegs gesê dat die oorledene ’n 69-jarige vrou was en dat sy as vermis aangegee was.
Die Hoorn het Vrydag ’n boodskap ontvang wat aangedui het dat die motor volgens die GPS-stelsel iewers op die Swartbergpas was. Dit is nie duidelik of die motor reeds die vorige dag of Vrydag teen die berg af is nie.
Die wrak van die motor het in ’n diep kloof beland en die liggaam van die vrou is buite die motor teen die steil berghang gevind en deur reddingswerkers na bo gebring.
Die Swartbergpas was vir etlike ure vir verkeer gesluit. Volgens die boodskap wat Die Hoorn ontvang het en wat deur verskeie mense aangestuur was, het die motor ’n Mosselbaai registrasienommer gehad.
Daar kon egter nie bevestig word of die persoon van Mosselbaai of George afkomstig was nie. Op ’n navraag oor die identiteit het die polisie gesê hulle het nie die inligting beskikbaar nie. (HANNES VISSER)
Identiteit van oorledene op Swartberg-pas nie bekend nie
Die toneel waar die motor die pas verlaat het en reddingswerkers voorberei om die liggaam te herwin.