Inkomste uit lughawe

Deur Schalk le Roux
DIE Oudts­hoorn munisipaliteit se maandelikse inkomste uit die Oudtshoorn Lughawe is tans meer as R85000 per maand wat insluit huur, landingsfooie asook munisipale dienste en belasting.

By navrae het dr Johan Strasheim, voorsitter van die Oudtshoorn Aeroklub, gesê die klub het in Fe­brua­rie 2017 van boekhoustelsel verander en die syfers sedert dié datum verskaf.

Die R85000 sluit nie die huur in wat die aeroklub aan die munisipaliteit verskuldig is vir die lughawegebou nie. “Die munisipaliteit stuur vir ons tans twee fakture vir altesame meer as R6000 vir die huur van die klubhuis.

Daar is egter groot onduidelikheid oor die fakture. Sodra ons dit met die munisipaliteit uitsorteer, sal ons die rekening op datum kry,” het Strasheim verseker.

Die totale landingsfooie wat die aero-klub sedert Februarie 2017 tot verlede maand aan die munisipaliteit oorbetaal het, is R386076 en die totaal vir munisipale belasting en dienste, wat elektrisiteit insluit, is R387217. Dié beta­lings verteenwoordig 41 maande se transaksies.

Dit beteken gemiddelde betalings aan die munisipaliteit van sowat R9444 per maand vir munisipale dienste en sowat R7870 per maand vir landingsfooie. Hier­van is R395 vir die landings van private vliegtuie, waarvan daar min is, en die res vir landings van Aifa/Tfasa se vliegtuie.

“Die R7870 verteen­woordig 50% van die landingsfooie wat ons ontvang en kragtens die huurkontrak aan die munisipaliteit oorbetaal.”

Volgens Strasheim word die landingsfooie bereken op grond van die fooie-struktuur van die Airports Company of South Africa (ACSA).

Met die berekening van die landingsfooi word faktore soos die gewig van die vliegtuig in ag geneem – hoe swaarder, hoe hoër die landingsfooi.

Die ACSA-fooiestruktuur word ondertoe aangepas weens die gebrek aan ’n aantal dienste soos brandweer, sekuriteit en bagasie- en vraghantering sodat dit billik is vir alle betrokkenes, het hy gesê.

“Die berekeninge vir tipiese landingsfooie is nie eenvoudig nie. Ek doen dit self en gee dit van tyd tot tyd aan die munisipaliteit deur.”

Strasheim sê behalwe die kundigheid wat hy en ander bestuurslede van die aeroklub gratis beskikbaar stel, het hulle vyf mense in diens waarvan twee deeltyds. “Nadat hul salarisse betaal is, word al die orige inkomste wat ons uit die landingsfooie en ons ander bedrywighede by die lughawe verdien, teruggeploeg in onder meer infrastruktuur en instandhouding by die lughawe. “Die aeroklub het oor die jare die klubhuis se ontvangsarea en openbare toilette uit eie fondse substansieël opgegradeer en die toestand daarvan is op ’n standaard wat ons dorp gestand doen. Ons het ook ’n netjiese braai- en kuierarea by die klubhuis aangebou,” het hy gesê.

• Pikkie Siebrits, uitvoerende hoof van Aifa, het by navraag gesê Aifa/Tfasa betaal maandeliks huur van R44369,90 aan die munisipaliteit oor.

“Ons het verlede maand R765,08 vir water aan die munisipaliteit oorbetaal, R14329,29 vir elektrisiteit, R1547,71 vir riool, R495,65 vir vullisverwydering en R6532,13 vir belasting.

Die totaal hiervan is R23587,38 vir die maand. Siebrits het afskrifte van die rekeninge aan Die Hoorn verskaf.

Die huurbedrag word betaal ondanks die feit dat Aifa/Tfasa op eie koste permanente verbeterings ter waarde van na raming meer as R40 miljoen op die lughawe aangebring het. Dit sluit in die groot vlieg­tuigloods met onder meer kantoorspasie en lesinglokale, en die vliegtoring-gebou wat ook kantore insluit.

“Benewens die lugbeheerdienste aan ons eie vliegskool, bied ons ook gratis lugbeheerdienste vir alle ander vliegtuie wat hier land aan,” het hy gesê.

By navrae het Siebrits aangedui dat Aifa/Tfasa werk verskaf aan 72 mense waarvan die meeste inwo­ners van Oudtshoorn is. “Ons lei sowat 90 studente op ’n slag op en het 18 instrukteurs.

“As al ons en ons studente se aankope in ag geneem word tov onder meer voertuie, voertuig­dienste, verblyf, kos en persoonlike aankope word digby R70miljoen jaarliks in Oudtshoorn se eko­nomie gepomp,” het hy gesê.

• Die Hoorn het gister tydens ’n nuus­konferensie die nuwe burgemeester, Chris Macpherson, en sy burgemeesterskomitee uitgevra oor die situa­sie by die Oudts­hoorn Lughawe.

Hy het die versekering gegee dat die situasie dringend aandag sal geniet en dat hulle inligting daaroor aan Die Hoorn sal verskaf.

1 Comment on "Inkomste uit lughawe"

  1. Llewellyn | 08/07/2020 at 00:34 |

    Great work done at Oudtshoorn Airport, thanks to the Oudtshoorn Municipality for recent work done and Aifa and Oudtshoorn Aeroclub for maintenance and investment as well as job creation.Oudtshoorn municipality must prioritize all infrastructure developments at the Airport,so that it can be one of the best Airports in South Africa, bringing revenue to our city and the region

Comments are closed.